|

AfriForum se Benoni-tak voltooi drie projekte

Die AfriForum-tak in Benoni het op 23 en 24 April verskeie areas van die dorp skoongemaak. Daar was hoofsaaklik gefokus op ’n beboste kleinhoewe in Orchardsweg, die Ikhaya Da Luz Children’s Safe Haven & Foster Home en die Sinethembe Hope House. Die span het gras gesny, bome gesnoei en rommel opgetel, terwyl instandhouding en herstelwerk ook by die kinderhuise gedoen is.

“Lang gras in openbare spasies bied wegkruipplek vir kwaaddoeners en veroorsaak dat misdadigers nie vasgetrek kan word nie. Daarom is dit vir ons belangrik om die oop areas skoon te maak, veral naby ons kwesbare lede van die gemeenskap soos die kinderhuise. Hoewel veiligheid vir ons baie belangrik is, is dit nie die enigste doelwit nie aangesien die projek ook bydra tot die algehele netheid van hierdie areas,” sê Achilles Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.

“Dit is lekker om te sien dat die Benoni-tak toenemend eienaarskap neem van hulle gemeenskap. AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap te ondersteun en volhoubare projekte te identifiseer om sodoende ’n beter omgewing te probeer skep. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang vanaf ons lede,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Benoni-tak. Stuur ’n e-pos na benoni@afriforumtak.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings