|

Gemeenskap spring sélf in, ruim meer as ’n ton vullis op

Die buurtspan van AfriForum se Centurion-tak en lede van die Kloofsig-gemeenskap het die afgelope Saterdag (20 Januarie) tydens ’n reuse-skoonmaakaksie meer as ’n ton vullis in dié klein buurt wat aan die Groenkloof-natuurreservaat grens, opgeruim.

Die skoonmaakaksie spruit uit die inisiatief wat die Kloofsig-gemeenskap self geneem het om hul buurt op te ruim. Die AfriForum-tak in Centurion se buurtspan se hulp is ingeroep, en dié span het, sonder om ’n oomblik te huiwer, ingestem om in te spring en van die skoonmaakaksie ’n sukses te maak.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum-koördineerder vir Groter Pretoria-Suid, is gras is gesny, bome is gesnoei en opgekerf en ’n gebied van nagenoeg 3 000 m2 is skoongemaak.

Ungerer benadruk dat opruimingsaksies soos dié talle voordele vir ’n gemeenskap inhou. “Gemeenskappe wat self moue oprol om hul buurt te verbeter, ontwikkel ’n waardevolle gevoel van gemeenskapstrots. Dit bied ook geleentheid vir individue om betrokke te raak en te voel dat hulle self ook ’n verskil kan maak en vestig betekenisvolle verhoudings tussen gemeenskapslede,” verduidelik Ungerer. “Kloofsig se gemeenskap is in hierdie opsig waarlik ’n uitsonderlike voorbeeld vir ander, en ons hoop dat die vlam van entoesiasme ook ander buurte in veral Centurion sal aanmoedig om betrokke te raak.”

“Gemeenskapsprojekte in Centurion het vanaf 2023 goeie groei getoon en AfriForum se Centurion-tak sien uit daarna om hierdie inisiatiewe vanjaar verder uit te brei in samewerking met gemeenskappe wat self hul buurte wil skoon hou,” sê Ungerer.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke. Kom maak jou hande vuil of maak ’n donasie. Besoek www.wordlid.co.za, merk jou tak as “Centurion” en maak nou ’n daadwerklike verskil in Centurion. Navrae kan gerig word aan centurion@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings