|

Bloemfontein-takke rol moue op in April

AfriForum se Rayton-Heuwelsig-tak in Bloemfontein het op 23 April ’n nuwe volhoubare projek in samewerking met City Run en lede van die DA aangepak.

Hierdie tak is reeds besig met vier volhoubare skoonmaakprojekte in hul area en is deur City Run genader wat graag van Reyneke Laan in Heuwelsig vir padwedlope wil gebruik maak. Die tak het dit goed gedink om die veld in Reyneke Laan skoon te maak omdat dit nie deur die munisipaliteit instand gehou word nie. Dit veroorsaak dat lede van die publiek hul vullissakke in die veld stort en dien ook as skuilplek vir booswigte en bosslapers, wat ’n veiligheidsrisiko vir inwoners in die omgewing inhou.

Lede van die publiek, City Run en die DA het hand bygesit met die skoonmaakprojek. Vullis, vullissakke en digte bosse is verwyder. Vragte vol rommel en tuinvullis is weggery. 

“AfriForum se Rayton-Heuwelsig-tak doen uitstekend en met ’n vyfde volhoubare projek wat hul gaan aanpak, is hul nie bang om hul moue op te rol nie. Dis ook ’n groot eer om City Run in die nuwe roete te ondersteun. Die Rayton-Heuwelsig-tak is een van die agt takke in Bloemontein wat help om die Brits-monument en President Brand-begraafplaas volhoubaar instand te hou. Reyneke Laan word ook deur lede van die gemeenskap gebruik om te oefen, maar dit lyk onnet. As ons patrolleerders die area moet patrolleer, hou dit ook ’n risiko in vir booswigte om in die lang gras weg te kruip. Die tak wil graag die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by hul projekte. Dit help om ’n gesonde verhouding met die gemeenskap te bou en saam kan hulle fokus op die netheid en veiligheid van die buurt,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Intussen het die kontrakteurs wat deur die AfriForum-takke in Bloemfontein aangestel is verskeie skoonmaakprojekte gedurende April in dié stad aangepak.

Hierdie projek het in Langenhovenpark, Uitsig, Universitas, Wilgehof, Hospitaalpark en Fichardtpark plaasgevind. Du Plessisrylaan in Langenhovenpark, waar die Langenhovenpark-tak die roosboomprojek geloods het, word elke week instand gehou. In Uitsig, Generaal De Wet en Fichardtpark is vullis in die strate opgetel en die parkie in Christiaan Rudolphrylaan, waar rommel gesorteer word, is skoongemaak. Altesaam 40 sakke vol vullis is in die parkie en op die hoek van Christiaan Rudolphrylaan en Sannasposweg opgetel en verwyder.

Gedurende die week van 18 tot 22 April is die sypaadjies in Pasteurrylaan, Hospitaalpark, ook skoongemaak. Die kontrakteurs sal hierdie maand in Pellissier afsluit waar verdere skoonmaakprojekte behartig sal word.

“Die munisipaliteit laat die gemeenskap in die steek weens hul swak instandhouding in Bloemfontein, terwyl die velde en sypaadjies wat nie mooi en netjies gehou word nie die buurte onnet laat lyk. Ons wil graag die netheid van ons buurte tot so ’n mate bevorder dat die gemeenskap in ’n skoon omgewing woon, maar ons benodig die ondersteuning van almal in die buurt om dit netjies te hou. Nie net sal dit die netheid bevorder nie, maar dit sal ook die veiligheidrisiko verlaag. AfriForum moedig alle gemeenskapslede aan om betrokke te raak by hul plaaslike AfriForum-tak. Saam kan ons ’n veiliger en skoner woonbuurt skep vir ons inwoners en kinders,” sê Groenewald.

“Ek wil ook almal aanmoedig om die sypaadjies en velde voor hul wonings skoon te hou. Dit help alreeds om in ’n mooier en skoner woonbuurt te bly en trots te voel op jou omgewing,” sluit Groenewald af.

Sluit vandag nog by die AfriForum-takke in Bloemfontein aan: SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om saam hoop te skep.

Soortgelyke plasings