|

AfriForum se Bethal-tak oes spinasie uit gemeenskapstuin

Die AfriForum-tak in Bethal het op 28 September spinasie uit die gemeenskapstuin geoes. 

Hierdie gemeenskapstuin is in Julie 2020 deur AfriForum se Bethal-tak begin ná hulle die uitwerking van die inperking op die gemeenskap se werk- en voedselsekerheid eerstehands waargeneem het. Daar is 900m² se groentenette opgerig en op 30 September 2020 is die eerste pale vir die struktuur opgerig.

Ná minder as ’n jaar spog dié tuin met sy eie boorgat om water  te voorsien en ongeveer 2 800 spinasieplante, asook uie, aartappels en blaarslaai wat aangeplant is.

Tydens die heel eerste oes is sowat ’n derde van die spinasie geoes en 58 kg spinasie is aan die Bethal Sopkombuis geskenk.

Daar word beoog om ’n kweekhuis op te rig om saailinge te verbou en die boorgat gaan uitgebrei word om ’n noodwaterpunt in die gemeenskap te word.

Die nuwe aanplantings vir die seisoen is bone, komkommer en wortels.

“Die projek op dié skaal is die eerste van sy soort in ons omgewing en ons is trots en dankbaar dat ons die projek tot op hierdie vlak kon uitbrei,” sê Marilè Nieuwoudt, taklid by AfriForum se Bethal-tak.

Soortgelyke plasings