|

AfriForum se Bethlehem-tak gebruik 31 ton teer om paaie te verbeter

Die AfriForum-tak in Bethlehem het hande gevat met plaaslike sakeondernemings om weer hoop te skep en ’n verskil te maak deur onder meer ’n volhoubare slaggatprojek van stapel te stuur. Die tak het tot op hede reeds 31 ton teer gebruik om slaggate in die dorp te vul in ’n poging om die toestand van die dorp se paaie te verbeter.

Die Bethlehem-tak het ook ’n waentjie aangeskaf wat elke dag gebruik word wanneer daar aan die paaie gewerk word. Herman Ferreira tesame met sy span medewerkers werk hard om ’n verskil te maak deur die slaggate voor te berei en dan die teer vas te stamp.

“Ons wil graag die gemeenskap aanmoedig om nie hoop te verloor nie en om eerder betrokke te raak by die verbetering van hul tuisdorp. Danksy die goeie samewerking het die tak goeie vordering gemaak,” sê Marc Timmins, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak.

“Die tak wil mense aanmoedig om betrokke te raak sodat ’n verskil gemaak kan word. Ons wil ook almal wat reeds bygedra het, bedank vir hulle hulp,” sê Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Inwoners wat donasies wil maak vir teeraankope of om die arbeiders te help, kan die volgende bankbesonderhede gebruik:

AFRIFORUM NPC
Eerste Nasionale Bank (FNB)
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Takkode: 250 655
Verwysing: BETHLEHEM TEER

Raak vandag nog betrokke. SMS “Bethlehem” na 45344 (R1) om sodoende jou dorp te beskerm en te verbeter.

Soortgelyke plasings