| |

Roofroetes: AfriForum gryp in by spykerlokvalle

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag aangekondig dat sy buurtwagte in en om Pretoria hul verbintenis gee tot die bekamping van die ernstige toename in spykerlokvalle (spikings) wat tans op verskeie hoofroetes aan veral die buitewyke van die stad aangeteken word. Dié burgerlike ingryping vorm deel van AfriForum se breër veldtog om die misdadige bloedvergieting wat opportunistiese misdadigers en moontlik selfs ook georganiseerde groepe uitvoer deur middel van veral spyker- en kliplokvalle, hok te slaan.

Verskeie ernstige voorvalle is die afgelope paar weke aangemeld. ’n Man is voorverlede Sondag (31 Maart) vermoor in ’n aanval op die N4, oos van Pretoria, toe rowers hom met ’n mes gesteek het nadat sy voertuig se bande beskadig is deur skerpgemaakte ysterpenne wat op die pad geplaas is. Hy is oorval, beroof en vermoor toe hy van die pad afgetrek het om die beskadigde bande te ondersoek.

Hierdie modus operandi word meer en meer algemeen en selfs ambulanse en voertuie van die Tshwane Metropolisie (TMPD) was al die teiken van dié aanvalle.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is bevind dat gedeeltes van die N1 noord van Pretoria, die R80, die N4 in die noorde van die stad sowel as N4-roete in die omgewing van Pretoria-Oos reeds berug is vir hierdie lokvalle. Daarbenewens is ander paaie soos Garsfontein- enDe Villebois Mareuilweg ook as lokvalbrandpunte geïdentifiseer.

“Ons buurtwagte in die Pretoria-omgewing het hulself daartoe verbind om die misdaadbrandpunte waar spyker- en kliplokvalle gereeld voorkom, by hul patrollieroetes in te sluit, bedag te wees op verdagte-items op dié roetes en om gemeenskapslede wat moontlik bystand benodig in dié verband, by te staan,” sê Broodryk.

Broodryk benadruk dat die gebruik van skerpgemaakte ysterpenne om motors te beskadig en sodoende motoriste te noodsaak om te stop en dan aan te val, voorheen eerder op agterpaaie en stil roetes aangeteken is. “Misdadigers het egter nou begin om hierdie tegniek ook op besiger paaie toe te pas, hoewel dit dikwels in stiller tye van die dag – en veral in die nag – uitgevoer word,” verduidelik hy.

AfriForum doen ’n beroep op plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en ander gemeenskapsveiligheidstrukture om met AfriForum hande te vat in die bekamping van hierdie tipe misdaad.

Broodryk gee die volgende praktiese raad aan motoriste ten opsigte van spyker- en kliplokvalle:

  • Moet onder géén omstandighede die motor stop ná ’n insident waarin die voertuig se bande, voorruit of ander onderdele beskadig is nie. Hou sover moontlik aan met ry tot by ’n veilige bestemming.
  • Kontak jou plaaslike buurtwag, sekuriteitsmaatskappy of nooddiens so gou moontlik en stel hulle in kennis van die voorval. Gee volledige besonderhede rakende die voorwerp wat in die lokval gebruik is en verskaf die adres of ligging daarvan. Dit sal aanvalle op motoriste wat moontlik ná jou op dieselfde manier geteiken word, kan voorkom.
  • Maak seker jou selfoon is gelaai voordat jy die pad aandurf.
  • Deel jou ligging met geliefdes, veral wanneer jy alleen reis.
  • Wees paraat en kom in die gewoonte om vooruit in die pad te kyk om sodoende enige bedreigings, vreemde voorwerpe of mense op of langs die pad betyds raak te sien.
  • Stoor die kontaknommers van die nooddienste, buurtwag of sekuriteitsmaatskappy op jou foon.
  • Oorweeg dit om ’n nooddienstoepassing, soos die AfriForum 911-paniekknoppie-toepassing, op jou foon te installeer. Dié toepassing is gratis beskikbaar op Google Play Store (vir Android-toestelle) en App Store (vir iOS-toestelle).

Besoek AfriForum se veldtogblad www.roofroetes.co.za vir gereelde opdaterings oor hierdie veldtog.

Raak vandag nog betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings