|

AfriForum se Brits-buurtwag trek verdagte vas

Die AfriForum-buurtwag in Brits het op 28 Julie een van vier verdagtes vasgetrek wat besig was om persone in die Zandfontein-omgewing te beroof.

Die Brits-buurtwag se Gemeenskaplike Operasionele Sentrum (GOS) het omstreeks 15:15 ’n versoek om hulp vanaf ’n buurtwaglid ontvang. ’n Werknemer van ’n naburige plaas het inligting deurgegee dat hulle aangeval is en hulp benodig. Die Brits-buurtwag is ontplooi en daar het hulle afgekom op een van die verdagtes wat ’n vrou die bosse ingeneem het. Die verdagte het gevlug en die buurtwaglede het hom agternagesit. Die buurtwag kon in samewerking met gemeenskapslede van ’n plaaslike informele nedersetting daarin slaag om die verdagte vas te trek. Die GOS het die polisie ontbied wat toe die verdagte gearresteer het. Die aanklaer het saam die polisie gery om ’n saak oop te maak.

“AfriForum wil die buurtwaglede bedank wat help om hul gemeenskappe veiliger te maak. Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ons buurtwaglede die gemeenskappe help en saam met gemeenskapslede kan werk om misdaad hok te slaan. Ons wil ook dankie sê aan elke persoon wat gehelp het met hierdie voorval en aan die polisie wat die verdagte op die toneel in hegtenis geneem het,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

Skakel vir Thys van Heerden by 067 395 6307 om by die Brits-buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings