|

Benoni-tak skep bewustheid oor bewaring tydens suksesvolle omgewingsakedag

Die AfriForum-tak in Benoni het die afgelope naweek ’n suksesvolle omgewingsakedag gehou by die Benoni Homestead Dam. Hierdie dag het ten doel gehad om bewusmaking te skep oor besoedeling, stropery en gesondheid. Nagenoeg 250 mense het deelgeneem aan hierdie dag.

Die Benoni-tak het saam met die gemeenskap vullis opgetel, sypaadjies skoongemaak, bome gesnoei en die gras rondom die oewer gesny. Daar is ook meer as 1 ton teer gebruik om slaggate te vul. Nuwe kennisgewingborde is ook by die dam opgerig om bewusmaking te skep oor die belangrikheid daarvan om die plaaslike fauna en flora te beskerm.

Jane Trembath, ’n natuurbewaarder, en Denzil Lazarus van die Blue Baboons-kajakklub het op hierdie geleentheid ook met die gemeenskap gepraat oor die belangrikheid van watersisteme soos die Homestead Dam en hoekom die visspesies binne hierdie dam bewaar moet word. Ander sprekers het ook gesels oor fisiese en sielkundige gesondheid.

“Hierdie was nou werklik ’n gemeenskapsprojek. Dit was lekker om te sien hoe skoolkinders en jongmense uit die gemeenskap ook hulle kant bring om die park weer mooi te laat lyk,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “Ons wil ook spesiaal dankie sê vir AfriForum Jeug, die veiligheidsdienste, nooddienste, plaaslike SAPD en die Ekurhuleni Metropolisie se berede-eenheid wat betrokke was by hierdie dag en gehelp het om dit ’n sukses te maak.”

“’n Gemeenskap wat bymekaar kan kom en hul gemeenskaplike uitdagings en kwessies kan bespreek en met oplossings vorendag kan kom skep ’n kultuur van samewerking, selfdoen en wedersydse erkenning en respek. Ons hoop dat hierdie tipe projekte die gemeenskap sal inspireer om betrokke te raak en ’n verskil in hul omgewing te maak,” sluit Ferreira af.

Die gemeenskap van Benoni word uitgenooi om aan te sluit by hul plaaslike AfriForum-tak en te help om ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings