| |

Vragmotor teruggevind ná Springs-buurtwag blouligkapers agternasit

AfriForum se Springs-tak het nie geskroom om die hulp van sy buurtwag in te roep nadat dié tak ’n noodoproep van twee kapingslagoffers ontvang het nie. Terwyl die buurtwag die verdagtes agternagesit het, het hulle daarin geslaag om die gekaapte vragmotor terug te vind.

Die AfriForum-tak het Donderdag om 19:00 ’n oproep ontvang dat ’n vragmotorbestuurder en ’n passasier op die N17-snelweg gekaap en beroof is. Die vragmotorbestuurder het aan die tak meegedeel dat hy op die snelweg deur ’n silwergrys Mercedes Vito voorgekeer is. Dié voertuig het na bewering blouligte aan sy dak aangebring. Nadat die bestuurder langs die pad stilgehou het, is hy en ’n passasier deur vyf mans aangesê om uit die vragmotor te klim. Twee van die mans was gewapen. Die twee slagoffers was in die kapers se voertuig geboender, van hul geld en selfone beroof en in ‘n veld naby die R29 in Springs afgelaai.

Morné Greyling, ondervoorsitter van AfriForum se Springs-tak en buurtwagleier, sê die tak het kort ná die noodoproep ’n span gestuur om die slagoffers te help, terwyl lede van die buurtwag die N17-snelweg vir die vermeende kapers gefynkam het. Die buurtwaglede het later ’n vragmotor aan die kant van die pad gewaar en dit versigtig genader om dit te beveilig. Die vermeende kapers was egter lank reeds weg.

Die vragmotorbestuurder is na die toneel toe om die voertuig te identifiseer en het later ’n saak van gewapende roof en ontvoering by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak.

“Hoewel die vermeende kapers nie dié keer vasgetrek is nie, is ons verheug dat die Springs-buurtwag daarin kon slaag om die slagoffers te beveilig, én die gekaapte voertuig op te spoor,” sê Greyling.

Daar was al soortgelyke kapings. Greyling maan dat motoriste bedag moet wees op hierdie modus operandi.

Met die gemeenskap se ondersteuning kan AfriForum se Springs-buurtwag ’n wesenlike verskil in die gebied maak. Besoek www.wordlid.co.za om by die Springs-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings