|

AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenhede nou nagenoeg 200 man sterk

AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenhede – oftewel protospanne – het na afloop van die suksesvolle voltooiing van die tiende protospanopleidingskurus vandeesweek met 18 lede gegroei. Dit bring hierdie eenhede, wat die voorste linie van AfriForum-buurtwagte se reaksiespanne vorm, op 180 lede te staan.

Die burgerregteorganisasie se gemeenskapsveiligheidafdeling het dié kursus aan die 18 toegewyde AfriForum-buurtwagvrywilligers aangebied. Buurtwaglede van Bronkhorstspruit, Midvaal, Roodepoort en Delmas het vandeesweek se opleiding voltooi.

Protospanlede se gespesialiseerde opleiding bied aan hulle ’n voorsprong in terme van gemeenskapsveiligheid en hul kennis van onder meer kontakgevegskuns, bloedingbeheer, die beveiliging van tonele, die opstel van padblokkades en taktiese vuurwapenhantering vorm ’n kritieke deel van hul opleiding.

Benewens protospanopleiding, bied AfriForum op ’n weeklikse basis ook basiese buurtwagopleiding aanlyn aan. Hierdie opleiding dek aspekte soos misdaadtoneelhantering, inligtingsinsameling, regsaspekte en huis-en-haard-beskerming. Meer as 7 000 vrywilligers het hierdie opleiding die afgelope twee jaar suksesvol voltooi.

AfriForum het in hierdie stadium 172 veiligheidstrukture landwyd wat met die hulp van byna 11 000 vrywilligers op gemeenskapsvlak, in woonbuurte én landelike gebiede, funksioneer.

“Ons protospanne is uiters suksesvol in die stryd teen misdaad en word gereeld deur wetstoepassingsagentskappe, soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), genader om hul tydens operasies by te staan,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum spits hom nou daarop toe om die opleiding van sy buurtwaglede te versnel omdat die misdaadsituasie in die land besig is om drasties te verswak. Daarom sal ons aanhou om ons buurtwaglede van topgehalte veiligheidsopleiding te voorsien. Die SAPD het self erken dat hy nie in staat is om sy mandaat te vervul nie en daarom is dit noodsaaklik vir gemeenskappe om opgelei te word om hulself te beveilig,” sluit Broodryk af.

Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings