|

AfriForum se buurtwagte in die Oos-Kaap neem deel aan nasionale patrollie

AfriForum se veiligheidstrukture in die Oos-Kaap het op 14 en 15 Julie aan dié organisasie se kwartaallikse nasionale patrollie deelgeneem. Meer as 249 AfriForum-lede, ongeveer 84 lede van private sekuriteitsmaatskappye en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het deelgeneem. Ongeveer 228 voertuie het meer as 4 587 km afgelê en drie voorvalle hanteer.

Gedurende die padblokkade wat tydens die patrollie in samewerking met die SAPD uitgevoer is, is ’n bestuurder beboet omdat sy lisensie verval het. Verder is daar ook hulp op ’n ongelukstoneel verleen waar ’n voertuig op die R75 tussen Winterhoekpark en Manor Heights, ’n bees getref het.

Die nasionale patrollie se doel is om sigbaarheid te verhoog deur in ’n konvooi deur dorpe te ry en padblokkades uit te voer. Dit bewerkstellig en verbeter ook effektiewe samewerking tussen AfriForum-buurtwagte, die SAPD, private sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidstrukture wat uiters belangrik is vir die gemeenskap se veiligheid.

“Dis vir ons as tak belangrik om misdaad te bekamp en ons beplan om hierdie patrollies in die toekoms uit te brei om misdaad heeltemal hok te slaan,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings