|

AfriForum versoek NERSA om AbaQulusi se lisensie vir die distribusie van elektrisiteit terug te trek

Die AfriForum se Vryheid-tak het op 15 Augustus die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gevra om AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit se lisensie vir die distribusie van elektrisiteit terug te trek. Dit volg nadat die distribusienetwerk in Vryheid en omliggende gemeenskappe verder verswak het en verskeie klagtes en beloftes van die munisipaliteit onbeantwoord bly.

“AfriForum het Nersa in 2019 gevra om ’n oudit op die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit te doen en klagtes van die gemeenskap aan te hoor. Sedertdien is daar egter geen verbetering in die distribusie van elektrisiteit nie. Die verskaffing van elektrisiteit in die dorp het nou katastrofiese afmetings aangeneem. Ons het geen ander keuse as om Nersa te vra om die munisipaliteit se lisensie te hersien nie,” sê André van der Walt, voorsitter van die Vryheid-tak.

“In ’n onlangse gemeenskapsvergadering met die munisipaliteit het dit baie duidelik geword dat geen amptenaar rekenskap wil of kan gee van die voortslepende swak dienslewering nie; inteendeel, politieke partye wil die antwoorde gee. Politieke partye mag nie met administrasie inmeng nie en dit is ’n duidelike teken dat hierdie munisipaliteit gekaap is,” sê Eugene van Aswegen, provinsiale koördineerder van KwaZulu-Natal.

AfriForum sal voortgaan om druk op die owerhede te plaas om hierdie lisensie te hersien.

Soortgelyke plasings