AfriForum se Christiana-buurtwag ontvang veiligheidsopleiding en help SAPD met arrestasie


Christiana-buurtwaglede het onlangs ’n inligtingsessie bygewoon waartydens toneelbewaring en forensiese aspekte bespreek is. Dié opleiding het reeds handig te pas gekom toe lede op 29 Oktober 2018 na ’n perseel ontbied is waar pluimvee vir die elfde keer gesteel is. Toegerus met die nodige kennis was dit moontlik om die toneel vir die SAPD te bewaar en kon bewysstukke aan die SAPD oorhandig word.

Buurtwaglede se blitsige optrede het ook gistermiddag ’n inbraak in Christiana verhoed en gehelp dat die verdagte gearresteer is. ’n Lid het die verdagte opgemerk en die res van die buurtwag ontbied. Van die beskikbare lede was blitsvinnig op die toneel en het die SAPD gehelp met die arrestasie vir poging tot huisbraak.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, lewer Christiana se buurtwag ’n onmisbare diens aan hulle gemeenskap. “Dit is ’n riem onder die hart dat vrywilligers hul tyd opoffer om inwoners te beveilig, asook dat hulle bereid is om die nodige opleiding te ondergaan.”
“Misdaad kan voorkom word deur oplettend te wees en vinnig te reageer. Dit het dan uiteindelik tot gevolg dat misdadigers uit dorpe padgee waar aktiewe buurtwagte teenwoordig is. Dit beklemtoon weer eens die noodsaaklikheid van veiligheidstrukture in alle dorpe, want dit is die beste manier om misdaad hok te slaan,” sluit Pretorius af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by veiligheidstrukture in Christiana betrokke te raak en deel te word van die plaaslike AfriForum-buurtwag.

Soortgelyke plasings