|

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag maak ’n verskil

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het gedurende Junie verskeie suksesse behaal.

Op 16 Junie is ’n operasie in samewerking met verskeie eenhede van die SAPD, die Community in Blue en die plaaslike verkeersdepartement gedryf. Tydens hierdie operasie is vier onpadwaardige voertuie gekonfiskeer en sewe persone is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Verder is daar ook gesteelde hoenders en een onwettige vuurwapen gedurende die operasie gevind.

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het ook deur die maand gedurende drie verskillende voorvalle vier verdagtes vir onder meer diefstal en huisbraak gearresteer. Tydens een van dié voorvalle is twee inbrekers op heterdaad betrap waar hulle besig was om by die Gereformeerde Kerk se perseel in te breek.

“Ons is dankbaar vir die goeie samewerking wat ons met die verskeie rolspelers in Delmas het. Die suksesse is ’n bewys daarvan dat ’n gemeenskap saam ’n verskil kan maak,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Wys jou steun vir AfriForum se tak in Delmas: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings