|

AFRIFORUM JEUG DIEN HOFSTUKKE IN TEEN NSFAS

AfriForum Jeug se regspan het pas hofstukke ingedien teen die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, beter bekend as NSFAS, se onregmatige besluit om beurse wat aan studente toegeken is, terug te trek. AfriForum Jeug is deur talle studente gekontak wat sedert Maart 2020 in kennis gestel is dat hulle nie meer kwalifiseer vir die NSFAS-beurse nie, hoewel hulle eerlik in hulle aansoeke was en aanvanklik goedgekeur is.

“Die hofaansoek is ingedien en die verligting wat ons van die hof vra, is tweedelig. Ons vra die hof om te beslis oor die meriete van die saak, met ander woorde dat die studente hulle beursgeld moet ontvang soos NSFAS onderneem het, maar ook tweedens dat ’n sertifiseringsproses toegelaat word. In die aansoek is daar drie applikante (twee studente van die Universiteit Stellenbosch en een student van die Noordwes-Universiteit), maar omdat ons soveel studente se besonderhede het, versoek ons die hof dat dieselfde verligting wat aan dié drie toegestaan word, ook gegee moet word aan die ander studente wie se besonderhede ons regspan as korrek sertifiseer,” sê Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder van tersiêre instellings.

Sowat 5 000 studente staar nou onsekere tye in die gesig omdat die universiteite waaraan hulle studeer, die uitstaande skuld van hulle terugeis. Die meeste van hierdie studente het geen ander finansieringsopsies nie en hulle ouers kan ook self nie help om hierdie skuld terug te betaal nie. Studente vrees dat hulle nie hul graadstudies sal kan voltooi nie en dalk selfs hulle studies sal moet staak omdat die universiteite en NSFAS hulle nie tegemoet kom nie.

AfriForum Jeug sal aanhou om namens hierdie studente op te tree en druk op NSFAS te plaas sodat die studente wat aan hulle toekoms bou nie slagoffers van bedrog en politieke inmengery word nie.

Raak vandag nog by dié universiteitskampusse se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na chantelle.dupreez@afriforum.co.za of SMS “NSFAS” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings