|

AfriForum se Durbanville-tak knap Weyerslaan op

Die AfriForum-tak in Durbanville het ’n gemeenskapsprojek in Weyersrylaan aangepak en die vervalle randstene voor die NG Kerk Moedergemeente Durbanville en Laerskool Durbanville opgeknap en nuut geverf. Hulle het ook die strate deeglik skoongemaak en -gevee.

Dié projek, wat vroegoggend op 20 Julie begin het, het ’n indrukwekkende span vrywilligers vanuit die gemeenskap ingesluit. Randstene is sorgvuldig wit en swart geverf, wat die estetiese waarde van die straat verbeter nie, asook bydra tot ’n veiliger omgewing vir voetgangers en motoriste.

“Hierdie projek is nie net ’n bewys van wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamwerk nie, maar het ook gehelp om gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder en ’n gevoel van trots in ons omgewing te kweek. Ons is trots op die sukses van hierdie inisiatief en beplan binnekort nog ’n soortgelyke projek,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Durbanville-tak.

Die Durbanville-tak wil graag hul opregte dank betuig aan Spiro’s Mega Mica vir die ruim skenking van ’n gedeelte van die verf vir hierdie projek. Sonder hul ondersteuning sou dié projek nie dieselfde impak gehad het nie.

Dankie ook aan MES wat ’n span van ses werksgereedheidskandidate gestuur het om met die projek te help. Hulle toewyding en harde werk het ’n beduidende bydrae gelewer tot die sukses van die dag.

Vir meer inligting oor toekomstige projekte of om betrokke te raak, kontak gerus vir Stoop by 074 513 6199.

Soortgelyke plasings