|

AfriForum verwerp onvoldoende wysigings aan Grondhofwetsontwerp

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum verteenwoordig die Grondhofwetsontwerp steeds ’n onbehoorlike, duur en potensieel ongrondwetlike poging om na bewering die beregting van grondverwante geskille in Suid-Afrika te verbeter. Die organisasie het skriftelike vertoë aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se Gekose Komitee oor Veiligheid en Geregtigheid gerig en aangedring dat die wetsontwerp in sy huidige gewysigde vorm verwerp word.

Die wetsontwerp poog om twee nuwe howe daar te stel: die Grondhof en die Grondhof van Appèl. AfriForum was betrokke by die openbare deelnameproses rakende hierdie wetsontwerp en het in 2021 kommentaar daaroor ingedien toe die wetsontwerp voor die Nasionale Vergadering gedien het.

Wysigings en veranderings wat aan die wetsontwerp aangebring is, is bemoedigend en verwelkom, maar het nie die mees fundamentele aspekte van die wetsontwerp, soos deur AfriForum uitgelig, uitgeklaar nie.

“Selfs in sy gewysigde vorm verteenwoordig hierdie wetsontwerp ’n poging van die regering om met nat hout te probeer vuurmaak sonder om die onderliggende kwessies wat die bestaande grondrestitusieproses teister uit te klaar,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die grondrestitusieproses wat tans in plek is, is gesaboteer deur wydverspreide korrupsie, politieke hebsug en wanbestuur. Totdat hierdie basiese kwessies opgelos is, sal geen aantal nuwe howe bydra tot die oplossing van grondverwante probleme nie. Die probleem is nie die gewillige-koper-gewillige-verkoper-model nie. Die probleem is dat die ANC-regering homself bewys het as ’n onwillige verspreider van die grond wat hy oor die jare opgegaar het,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings