|

Mooirivier-buurtwagte neem  aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwagte in Mooirivier het op 14 April in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie uitgevoer. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 03:00 die volgende oggend voortgeduur.

Die patrollie is uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Altesaam 7 065 km is deur 261 patrolleerders in 212 voertuie afgelê. Ongeveer 140 persone van veiligheidsinstansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye, het ook aan die patrollie deelgeneem.

Die buurtwagte wat deelgeneem het sluit in Bothaville, Deneysville, Parys, Sasolburg, Songloed, Hartbeesfontein se buurt- en plaaswagte, Potchefstroom, Stilfontein, Orkney, Ventersdorp en Wolmaransstad.

Daar is geen ernstige insidente aangemeld nie. Voorvalle het gewissel van verdagte voertuie, dronkbestuurders, hantering van openbare dronkenskap, kabeldiefstal, huismoles, motorongelukke en klein brande. Verdagtes wat gearresteer is, is aan die plaaslike polisie oorhandig.

Die twee buurtwagte in Hartbeesfontein het saam met die SAPD ’n padblokkade gehou en nagenoeg R95 500 se boetes is uitgeskryf.

“AfriForum se buurtwagte sal voortdurend massapatrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saamwerk om misdaad te bekamp. Die verhoogde sigbaarheid in die buurte en stede speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidspesialis vir die sentraalstreek.

“Ek is baie trots op hierdie buurtwagte wat altyd bereid is om aan die nasionale patrollie deel te neem. Ek bedank elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hulle onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke klik hier.

Soortgelyke plasings