|

AfriForum se GOP-insette fokus op opgradering en instandhouding in Naledi Plaaslike Munisipaliteit

Die AfriForum-tak in Vryburg het sy voorstelle op die Naledi Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien. Hierin het die tak voorgestel dat die munisipaliteit ’n groter fokus op die opgradering en instandhouding van Vryburg en Stella se infrastruktuur moet plaas.

Die afgelope jaar het die munisipaliteit geld bestee aan allerlei soorte herstelwerk in dié dorpe. Die werklike probleem lê egter by die verouderde water- en rioolwerke, waaraan nog geen aandag gegee is nie. In die GOP spreek die plaaslike AfriForum-tak sy kommer uit oor die verval van hierdie infrastruktuur en beveel aan dat die munisipaliteit dit sy eerste prioriteit maak om die agteruitgaan die hoof te bied. Dit is veral in Vryburg waar inwoners deur rioolwater ry weens swak onderhoude infrastruktuur wat onklaar raak. Dit is dus van kardinale belang dat die munisipaliteit genoeg begroot om hierdie infrastruktuur op te knap.

Buiten dié probleme, is die toestand van paaie ’n groot bekommernis in beide dorpe.  Sommige paaie is deurtrek met slaggate, wat dit nie net moeilik maak om te gebruik nie, maar ook uiters gevaarlik maak. Die tekort aan padtekens is ook ’n groot uitdaging. Stoptekens word gereeld gesteel en nooit vervang nie. Die afwesigheid van padlyne veroorsaak ook dat motoriste verward raak, wat die risiko vir motorongelukke verhoog. AfriForum stel voor dat die munisipaliteit die nodige fondse beskikbaar maak om hierdie probleme die hoof te bied, of selfs met die Vryburg-tak hande te vat om saam hierdie uitdagings aan te spreek.

Die tak het ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om so te begroot dat die instandhouding van parke en velde in die dorpe, asook die instandhouding van vullisterreine, geprioritiseer word. Die vullisterreine het in vergelyking met ’n paar jaar gelede aansienlik verbeter, maar voldoen steeds nie aan al die nodige vereistes nie. Dit is daarom broodnodig dat die vullisterreine op standaard gekry word.

Die Naledi-munisipaliteit moet ook vir die volgende tekortkominge in Vryburg en Stella begroot:

  • Instandhouding van begraafplase;
  • voldoende veiligheid by begraafplase;
  • vinnige herstel van gebarste pype;
  • ingryping by onwettige storting en;
  • instandhouding van die plaaslike kragnetwerk.

AfriForum vereis ook dat die munisipaliteit kwartaallikse vergaderings met AfriForum hou om die kwessies se vordering te bespreek.

“Die GOP is die ideale geleentheid vir die gemeenskap en AfriForum-takke om hul kommentaar en voorstelle oor die munisipaliteit se beplande begroting uiteen te sit. Dit gee nie net die gemeenskap die geleentheid om hul stem te laat hoor nie, maar gee ook die munisipaliteit die geleentheid om probleme in die gemeenskap te identifiseer en op te los. AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit plaas om te verseker dat hy aandag aan die probleme gee en sy grondwetlike pligte nakom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter deur vandag nog by AfriForum betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings