|

Mangaung-metro versuim om vullis te verwyder – hier is die oplossing

Belastingbetalers in die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit gaan gebuk onder die swak dienslewering, veral ten opsigte van vullisverwydering in Bloemfontein. As gevolg daarvan het duisende mense reeds begin om gebruik te maak van privaat vullisverwyderingsdienste sodat hul vullis verwyder kan word – dit beteken dat inwoners nou dubbel moet betaal vir hierdie diens. AfriForum moedig inwoners van die Mangaung-metro aan om ’n versoek te rig om hierdie diens te kanselleer sodat hulle nie twee keer daarvoor hoef te betaal nie.

“Dit is tyd dat die gemeenskap hul stem dik maak en nee sê om vir ’n diens te betaal wat nie gelewer word nie. As die munisipaliteit nie die diens reg kan lewer nie, sal ons dit self doen,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek. “Dienste wat privaat gelewer word, is meer betroubaar en goedkoper as wat die munisipaliteit ons tans vra. Daarom moet inwoners die geleentheid gebruik om die munisipaliteit in kennis te stel dat hulle van ander vullisverwydering dienste gebruik maak en nie meer die munisipaliteit se vullisverwydering nodig het nie. AfriForum lewer self al vir die afgelope vier jaar ’n volhoubare vullisverwyderingsdiens aan lede en nie-lede in Bloemfontein, dit kán gedoen word.”

Die munisipale verordening stel duidelik dat inwoners aanspreeklik is om die tariewe te betaal indien die munisipaliteit die afvaldienste lewer maar dat inwoners vrygestel kan word indien hulle die munisipaliteit skriftelik in kennis stel en die munisipaliteit dan daartoe instem. Volgens dié verordening het inwoners wat reeds van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak die reg hê om hul munisipale vullisverwyderingsdienste en kostes te kanselleer. Neem kennis dat dit steeds die inwoner – wat hierdie versoek in hul eie kapasiteit gaan verklaar – se verantwoordelikheid bly om met die betrokke metro op te volg oor die kansellasie van hul dienste en kostes.

“Dit is onaanvaarbaar en onregverdig dat inwoners dubbel moet betaal vir ’n diens wat hulle in werklikheid net een keer ontvang. Die gemeenskap is moeg daarvoor om te sukkel om hul areas netjies te hou. Die vullis lê vir weke aaneen voor inwoners se huise en dit het ’n direkte impak op inwoners se gesondheid en veiligheid,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Inwoners wat gebruik maak van ’n alternatiewe vullisverwyderingsdiens kan die skakel volg om die gepaste skrywe af te laai en dit in te dien by die metro.

Klik hier om aan te sluit by AfriForum se vullisverwyderingsdiens. Inwoners wat wil aansluit by AfriForum se vullisverwydering diens kan die skakel volg om aan te sluit.

Soortgelyke plasings