| |

AFRIFORUM SE HARTBEESPOORT-BUURTWAGLEDE ONTVANG HOMMELTUIGOPLEIDING

Die AfriForum-buurtwag in Hartbeespoort het twee buurtwaglede van 12–16 April vir opleiding as hommeltuigvlieëniers na Orania gestuur. Dít volg nadat die tak ’n hommeltuig aangekoop het sodat die buurtwag dit kan gebruik om gemeenskapsveiligheid op te skerp, asook om samewerking met die plaaslike polisie te verbeter.

Die opleidingskursus word deur AfriForum Gemeenskapsveiligheid aangebied met André Coetzee, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noord-Kaap en hommeltuigoperateur, wat as instrukteur optree. Die buurtwag is baie trots op Dennis Webster (takvoorsitter) en Nelis Janse van Rensburg (buurtwagleier) wat die kursus geslaag het. Volgens die lede was die aanbieding van die kursus van ’n hoë gehalte en hulle voel nou gemaklik om ’n hommeltuig optimaal te hanteer.

“Ons is baie dankbaar vir lede van die gemeenskap wat bereid is om hulle werk vir ’n week te los om hierdie opleiding te ontvang. Dit is werklik ’n opoffering wat gemaak word deur mense om hulle gemeenskap veiliger te maak vir almal wat daar woon. Die AfriForum-buurtwag in Hartbeespoort kan misdaad nou nóg beter beveg met twee gekwalifiseerde hommeltuigoperateurs,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Gemeenskapslede kan by die Hartbeespoort-buurtwag betrokke raak deur “Hartbeespoort” na 45351 (R1) te SMS of Janse van Rensburg by 079 950 1750 te skakel.

Soortgelyke plasings