AfriForum se Hessekwa-tak neem aan nasionale patrollie deel


Sowel AfriForum se Hessekwa-buurtwag as -plaaswag het op Vrydag 19 Oktober 2018 aan ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede deelgeneem. Dié patrollie is in samewerking met die SAPD gehou en die span het verskeie aksies deur die loop van die nag geloods om Hessekwa ’n veiliger plek te maak.

Altesaam 85 patrolleerders het bykans 1 407 km met 52 voertuie in 184 man-ure afgelê, en geen ernstige misdaadvoorvalle is aangemeld nie. Die patrollie, wat polisiëringsigbaarheid opskerp, het omstreeks 16:00 begin en tot 6:00 die volgende oggend geduur.

“Hessekwa se buurt- en plaaswagte sal deurlopend soortgelyke projekte en gereelde patrollies in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstellings aanpak om misdaad hok te slaan en veiligheid in hul gemeenskappe te bevorder,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se streekshoof vir gemeenskapsveiligheid in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap. Arno Greyling, distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, voeg by dat die Hessekwa-tak ’n besonderse fokus op veiligheid het en in dié opsig van krag tot krag sal gaan.

Raak by AfriForum se buurt- en plaaswagte betrokke en help om jou gemeenskap te beveilig: SMS “Veilig” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings