AfriForum se Kempton Park-buurtwag woeker gedurende Augustus


AfriForum se Kempton Park-buurtwag het gedurende Augustus op 25 insidente gereageer en aan die gemeenskap bystand gelewer. Hierdie voorvalle, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en verskeie sekuriteitsmaatskappye, sluit onder meer ’n aantal ongelukstonele en die opspoor van verskeie gesteelde voertuie in.
Die buurtwag bied ook bystand in onder meer die volgende voorvalle:

  • Het bystand aan ’n vrou – wie se seun selfmoord gepleeg het – verleen totdat die SAPD en nooddienste op die toneel gearriveer het.
  • Het mediese bystand verleen in twee gevalle waar onderskeidelik ’n man en vrou oorlede is aan ’n hartaanval.
  • ’n Man, wat op ’n werkperseel ingetrek sonder toestemming van die eienaar, is verwyder.
  • Bied hulp aan ’n ouerpaar om hul kind op te spoor.
  • Verleen hulp aan ’n bejaarde egpaar wie se gasbottel in die huis aan die brand geslaan het, asook ’n ander voorval waar ’n lapa aan die brand geslaan het.
  • Bied hulp aan twee vroue wat in ’n straat beroof is.
  • Verleen hulp in samewerking met sekuriteitswagte en die SAPD om ’n gekaapte voertuig in Tembisa op te spoor.
  • Verleen bystand by ’n saak van huishoudelike geweld, waar die seun die pa wou aanrand. Die SAPD is ontbied en het die situasie ontlont.
  • Verleen saam met sekuriteitswagte en nooddienste hulp aan ’n vrou in kraam. Die baba is by die huis gebore en daarna is ma en baba na die hospitaal geneem.
  • Verleen veiligheidsdienste by die Winterfees te Laerskool Birchleigh.
  • Terwyl die buurtwag op patrollie was, het hulle ’n man gewaar wat besig was om kabels te steel. Die SAPD is ontbied en die man is gearresteer.
  • Verleen bystand aan sekuriteitsmaatskappye in die geval van twee motorfiets­diefstalle. Die motorfietse word teruggevind en beslag word op die voertuig gelê.
  • Verleen bystand aan sekuriteitsmaatskappye vir ’n voertuig wat vanaf Sandton na Tembisa agtervolg is. Die voertuig word in Kempton Park opgespoor.
  • Die protospan en die SAPD se K9-eenheid het ’n dwelmidentifiseringsaksie gedoen om lasbriewe vir deursoeking te kry.
  • Die protospan en die SAPD se K9-eenheid het ook ’n verdagte in besit van ’n crack-kokaïenpyp en metamfetamien in hegtenis geneem.
  • Het ’n seun opgespoor wat uit sy kinderhuis wegloop.
  • ’n Bestuurslid het op ’n kaping afgekom en die verdagtes verjaag.
  • Verleen bystand met verkeersbeheer nadat ’n elektriese transformator in Van Riebeeckpark aan die brand geslaan het.
  • Ontvang radiospraak- en teenkapingsopleiding.

Volgens Jan Vermaak, AfriForum se Kempton Park-takvoorsitter, is dit belangrik om aktief en sigbaar in die gemeenskap te wees om misdadigers uit die gebied te dryf.

“Ons het al telkemale gesien dat misdadigers heeltemal uit gebiede verdryf word waar die gemeenskap saamwerk om misdaadaktiwiteite te bekamp en sigbaar is. Ons is verantwoordelik vir ons eie veiligheid en kan dit bereik deur ons op ’n gemeenskaplike doel toe te spits.”

Dirk Venter, buurtwagvoorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak, sê dat gemeenskaps­betrokkenheid ’n groot rol in Kempton Park speel en dat mense by die bestaande strukture moet inval om só ’n daadwerklike verskil te maak.

“Ons moedig die inwoners van Kempton Park en omliggende gebiede aan om betrokke te raak en ons te help om veiligheid in die gemeenskap te bevorder.”

Raak betrokke en sluit by die buurtwag aan deur die woord “Veiligheid” na 45342 (R1) te SMS of ’n e-pos aan afriforum.kemp@gmail.com te stuur.

Soortgelyke plasings