AfriForum se Meyerspark-buurtwag beveilig gevaarlike gebiede


AfriForum se Meyerspark-buurtwag het die afgelope maand gefokus op die beveiliging van twee gebiede in dié omgewing wat herhaaldelik onder kapings en slaan-en-gryp-gevalle deurloop: die hoek van Simon Vermooten- en Bushstraat, en die N4-afrit by Simon Vermootenstraat.

“Die buurtwag se patrollies het die afgelope tyd daarop gefokus om meer proaktief te wees. AfriForum is dankbaar vir elke persoon wat hul tyd opoffer om ’n verskil te maak,” sê Andre Badenhorst, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Meyerspark-tak.

Sedert dié patrollies begin het, is daar geen nuwe insidente aangemeld nie, selfs al is daar geen arrestasies gemaak nie. Die SAPD het die AfriForum-buurtwag vir hul waaksaamheid bedank.

“Gemeenskappe moet begin om hulself te beveilig en daarvoor het ons vrywilligers nodig. Ons sal voortdurend nuwe projekte in samewerking met die polisie aanpak om misdaad in ons dorpe hok te slaan,” sê Lambert de Klerk, distrikskoördineer vir AfriForum in Gauteng.

AfriForum doen ’n beroep op die verskeie gemeenskappe in die Tshwane Metropool om by plaaslike takke betrokke te raak en aktief aan die buurtwagaktiwiteit deel te neem. Stuur ’n e-pos aan lambert.deklerk@afriforum.co.za vir meer inligting hieroor.

Soortgelyke plasings