|

AfriForum-buurtwagte hou gesamentlike hoësigbaarheidsaksie in Addo

Die burgerregteorganisasie AfriForum se buurtwagte in Kirkwood, Addo en die Gamtoosvallei-omgewing het op 17 Februarie 2020 in samewerking met die Oos-Kaapse sekuriteitsnetwerk, gemeenskapslede, Smhart Security en Valley Security ’n gesamentlike hoësigbaarheidsaksie as misdaadvoorkomingsmaatreël gehou.

Altesaam 30 mense het in 13 voertuie ongeveer 1 000 km afgelê. Dié sigbaarheidsaksie het om 20:00 begin en 05:00 geëindig. Slegs twee voorvalle van huisbraak is aangemeld en hoewel geen arrestasies gemaak is nie, het die vinnige en gekoördineerde reaksie van die buurtwagte die oortreders op die agtervoet gehad.

“Gewoonlik keer verdagtes terug vir nog ’n probeerslag later dieselfde aand, maar dié aand het dit nie gebeur nie en ons glo dit is as gevolg van die aktiwiteite van die buurtwagte,” sê Dave Phelan, AfriForum se gemeenskapsveiligheidvoorsitter van die Gamtoosvallei.

“Die Addo-gemeenskap gaan gebuk onder misdaad en die gemeenskap is keelvol en gefrustreerd. Dít is waarom AfriForum iets daadwerklik wil doen om ’n verskil in die gemeenskap te maak en om die gemeenskap weer hoop te gee,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings