|

AfriForum sê minister se uitlatings oor moedertaalonderrig is blote oëverblindery

Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, se mees onlangse uitlatings oor die waarde van moedertaalonderrig en haar departement se waardering vir Afrikaanse skole, is blote oëverblindery in aanloop tot die verkiesing in die lig van die groeiende teenstand teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp). Dit is die mening van AfriForum nadat die minister gister Afrikaanssprekendes probeer gerusstel het dat die wetsontwerp glad nie Afrikaanse skole teiken nie.

“Die ANC is kampioen waardevernietigers. Dat enige Suid-Afrikaanse instelling uitnemend funksioneer, het nog nooit verhoed dat dit deur swak administrasie, kaderontplooiing en die wanaanwending van fondse tot wanfunksionaliteit geplunder is nie. Met die BELA-wetsontwerp is onder meer Afrikaanse skole en gehalte onderrig oor die algemeen aan die beurt,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Sy beklemtoon dat die publiek nie so naïef is om die minister se versekering te glo nie. “In enkelmedium Afrikaanse skole is personeel en beheerliggame gewoond daaraan om deurlopend onder druk te verkeer om na dubbel- of parallelmedium om te skakel. Die minister self en ander ANC-politici se venynige aanvalle op Afrikaanse skole in die verlede, maak die ware stand van sake duidelik. Dubbel- en parallelmediumskole verengels redelik vinnig in Suid-Afrika. Die departement maak gereeld nuwe planne bekend om meer tale as tale van onderrig te bemagtig, maar in die praktyk gebeur dit nie omdat die infrastruktuur, leermateriaal en politieke wil om dit prakties uit te voer, ontbreek.”

Bailey meen moontlike oplossings is onder meer dat alle ouers in die land na behore oor die voordele van moedertaalonderrig ingelig moet word, die aanbod van enkelmediumskole uitgebrei moet word en dat alle skole ’n derde amptelike taal as vak kan aanbied, maar nie as onderrigmedium nie.

Intussen word die president se reaksie op AfriForum, Solidariteit en die S se versoek dat hy nie die BELA-wetsontwerp moet onderteken nie, afgewag. Verder sit AfriForum se regspan ook voorbereidings vir regsaksie voort, indien hy nie op die versoek sou ag slaan nie.

Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum se regsaksies gee by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings