AfriForum maak Christelike Privaatskool Malmesbury boeliebestand

AfriForum se teenboelieveldtogspan het onlangs (14 Mei) ’n fondasie vir die leerders van die Christelike Privaatskool Malmesbury in die Wes-Kaap gelê om boeliegedrag te identifiseer en vinnig in die kiem te smoor. In ’n poging om ’n daadwerklike verskil te maak, het AfriForum 255 leerders by die skool geleer hoe hulle die volle wapenrusting van God kan aantrek om boeliegedrag in sy spore te stuit.

Boeliegedrag in skole is ’n ernstige saak, soveel so dat een uit elke vyf kinders in ’n stadium in hul skoolloopbaan geboelie word. Hierdie skokstatistiek het AfriForum genoop om op te tree en skole regoor die land te besoek om bewusmaking oor boeliegedrag te skep. Die veldtog sluit inligtingsessies in wat leerders leer hoe om boelies se optrede beter te verstaan en daarteen bestand te wees.

Marilize de Kock, hoof van Christelike Privaatskool Malmesbury se juniorfase, sê AfriForum se praatjie was insiggewend, aangesien dit iets is waarmee kinders en onderwysers daagliks mee gekonfronteer word. “Daar is altyd ’n rede waarom kinders boelie en daar moet altyd ondersoek ingestel word na hoekom ’n kind so optree. Onderwysers by skole moet weet hoe om in te tree in hierdie gevalle, omdat kinders vir ’n groot gedeelte van die dag in die sorg van ander is. Ons glo dat die Bybelse aanslag wat gebruik word met betrekking tot die wapenrusting van God ’n positiewe impak op die leerders het en dit lê ’n goeie fondasie waarop onderwysers kan voortbou.”

Volgens AfriForum se projekassistent vir onderwys, Tania Scheepers, is dit belangrik dat leerders geleer word oor die gevare van boeliegedrag. “Veilige skole sorg ook vir veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Daarom is dit van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom.”

AfriForum bemagtig vir die afgelope sewe jaar skole landwyd met dié veldtog en moedig kinders aan om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. “Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die veiligheid van gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai.

Soortgelyke plasings