|

Bothaville-tak verkla munisipale bestuurder oor riool in Valsrivier

Die AfriForum-tak in Bothaville het op 14 September ’n strafregtelike klagte by die polisie ingedien teen Scotch Lehloenya, die munisipale bestuurder van die Nala Plaaslike Munisipaliteit, oor die riool wat in die Valsrivier ingestort word. ’n Pomp het uitgebrand wat veroorsaak dat die riool nie na die rioolwerke gepomp kan word nie. Die water het toe reeds vir twee weke by ’n mangat uitgeloop en direk by die Valsrivier ingevloei.

Die strafregtelike klagte volg nadat die plaaslike AfriForum-tak die situasie herhaaldelik onder die munisipaiteit bestuur se aandag gebring het waarna die pomp steeds nie herstel is nie. Op 15 September is ’n kontrakteur aangestel en die pomp is uiteindelik herstel. Daar is egter nog nie aandag geskenk aan die sewe rioolpunte in Kgotsong, waar die riool ook by die rivier invloei nie.

“Die feit dat die munisipaliteit voete sleep om die pomp te herstel wat veroorsaak het dat van die riool by die Valsrivier invloei, is krimineel van aard en daarom het ons ’n klagte gelê. Die munisipaliteit versuim om hul pligte na te kom en ons sal dit nie langer duld nie. Daar moet voorsiening gemaak word vir noodpompe of ’n kragopwekker, terwyl die beveiliging van die pompe ook ’n groot bron van kommer is,” sê Willie Prinsloo, voorsitter van die Bothaville-tak.

“Ek is dankbaar dat die tak standpunt inneem teen die besoedeling van die rivier. Die munisipaliteit sal beslis tot verantwoording geroep word. Ons is dankbaar dat daardie lek nou herstel is, maar ons hou steeds dop of daar iets omtrent die lekke in Kgotsong gedoen word en die klagte is dus nie teruggetrek nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak: SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings