|

AFRIFORUM SE NABOOMSPRUIT-TAK STIG ’N BUURTWAG

AfriForum se Naboomspruit-tak het op 24 Maart ’n buurtwag op die dorp gestig nadat die gemeenskap dié burgerregteorganisasie genader het met versoeke om ’n buurtwag te stig. Die buurtwag fokus daarop om die gemeenskap weerbaar te maak deur ’n veerkragtige en parate gemeenskap te skep wat as die oë en ore van die polisie sal optree en die gemeenskap se veiligheid sal bevorder.

Ná die plaasaanval op die Van Zyl-gesin in 2020, het die gemeenskap in Naboomspruit in Augustus verlede jaar ’n massaoptog gehou om hulle weersin en ongelukkigheid, asook hul ondersteuning van die Van Zyl-familie te toon. Hierdie optog het landwyd opspraak gewek. AfriForum se Naboomspruit-tak het toe besluit om te begin werk daaraan om ’n plaaslike buurtwag te stig. Die stigting is dus die resultaat van die afgelope ses maande se voorbereiding. Kobus van Loggerenberg is deur die gemeenskap verkies as buurtwagleier en hy sal dus die veiligheidsaspekte van die tak koördineer.

Ná die stigting het die buurtwaglede opleiding ontvang in die gebruik van AfriForum se unieke Telegram-netwerk en @AfriForumBuurtBot. Die Bot is ’n program wat op Telegram gebruik word en help met die outomatisering van administrasie soos lede-inligting, munisipale probleme en, in besonder, ook veiligheid. Wanneer ’n lid “aan diens” aanteken op die buurtwag se operasionele groep word daar outomaties ’n joernaalinskrywing gedoen wat al die besonderhede van die patrollie of reaksie stoor.

“Net soos ons gebuk gaan onder munisipale agteruitgang, ly ons onder die misdaad en wetteloosheid wat heers in ons dorpe en op ons plase. Ons neem nou verantwoordelikheid vir ons eie lot en toekoms en daarom sal ons nie langer agteroor sit nie. Die stigting van hierdie buurtwag is die volgende tree op die pad na selfbeskikking,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo het die takbestuur bedank vir hul ondersteuning aan die gemeenskap. “Ses maande gelede by die massaoptog het ons ons voorgeneem dat ons saam moet werk om ’n volhoubare oplossing te vind teen die terreur wat op plase plaasvind en die misdaad in die dorp. Nou begin die harde werk. Dieselfde voertuie wat laasjaar aan die optog deelgeneem het, moet vanaand en elke aand daarna ook saam uitgaan en patrollie ry. Ons sál saam weerstand bied teen hierdie laakbare aanslag. Sigbaar, gedissiplineerd, in samewerking met die polisie, sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies, binne die raamwerk van die wet, sal hierdie buurtwag ’n daadwerklike verskil maak aan die oorlewing en voorspoed van Naboomspruit en omgewing.”

Raak betrokke by die buurtwag: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot). Indien jy in Naboomspruit of nabygeleë gebiede enige nood ervaar, skakel gerus die buurtwag by die volgende noodnommer: 066 159 9622.

Soortgelyke plasings