AfriForum se nasionale massapatrollie skep hoop teen misdaad


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope naweek sy nasionale massapatrollie gehou waaraan sowat 4 000 AfriForum-lede verbonde aan 132 van dié organisasie se buurt- en plaaswagte deelgeneem het.

Tydens die patrollie is soveel as 74 000 km in meer as 2 200 voertuie afgelê. ’n Totaal van 17 379 manure is vrywilliglik ingesit en 108 insidente is suksesvol hanteer.
175 ander veiligheidsrolspelers was ook daarby betrokke, waaronder die SAPD, privaat sekuriteitsinstansies, nooddienste, verkeersdienste, insleepdienste en verskeie gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s).

“Die sukses van en deelname aan AfriForum se nasionale massapatrollie is ’n duidelike teken dat gemeenskappe hul eie veiligheid prioritiseer. Ons kan nie op die owerhede alleen vir ons gemeenskappe se veiligheid staatmaak nie, maar moet self eienaarskap daarvan neem. Gemeenskappe moet aktief betrokke raak binne die raamwerk van die wet,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.
“Aksies soos hierdie streef ’n groot doelwit na – om samewerking en samehorigheid op grondvlak tussen rolspelers te bewerkstellig vir eenvormige misdaadbekamping,” sê David Olivier, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.
“Hoë sigbaarheid is ’n proaktiewe aanslag tot misdaadbekamping en tydens hierdie aksies is daar ’n bewese gevoel van veiligheid onder die gemeenskap. AfriForum se veiligheidstrukture vat graag hande met alle rolspelers, maar veral die SAPD. Aksies soos die nasionale patrollie ryk ’n hand van samewerking na die polisie uit wat daarop neerkom dat ons mekaar moet help om ons gemeenskap ’n veiliger plek vir almal te maak,” sluit Johandré van Zyl, AfriForum se  hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek, af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag of -plaaswag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings