|

AfriForum se Nelspruit-tak ondersteun LEFPA in die stryd teen brande

AfriForum se Nelspruit-tak het ’n skenking ter waarde van R5 000 in die vorm van water, energiekoeldranke, lemoene en energiestafies aan die Lowveld & Escarpment Fire Protection Association (LEFPA) gemaak. Met hierdie skenking staan dié AfriForum-tak LEFPA by in hul taak om die verwoestende brande wat die afgelope weke reeds in die Laeveld woed, onder beheer te kry.

Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Laeveld, werk LEFPA tans ononderbroke aan brandbestryding in dié streek en die Nelspruit-tak se skenking is juis so gedoen om te help verseker dat die LEFPA-span energiek bly terwyl hulle hierdie noodsaaklike werk verrig.

Gemeenskapsondersteuning vir mense wat op grondvlak aktief betrokke is in die afweer van ’n natuurramp waardeur mens, dier en die omgewing geraak word, is van kritieke belang, benadruk Van Heerden.

“Ons is innig dankbaar vir die harde werk en toewyding van die LEFPA-span. Hierdie skenking is ons manier om dankie te sê en hulle te ondersteun in hierdie kritieke tyd,” sê Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak. “Ons hoop dat hierdie bydrae ’n verskil sal maak en dat dit die span sal help om hul belangrike werk voort te sit.”

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om ook by te dra tot die ondersteuning van LEFPA en ander nooddienste wat onverpoos werk om die streek veilig te hou.

Soortgelyke plasings