AfriForum Teater vier tweede verjaarsdag

AfriForum Teater het hul deure op 3 Maart 2021 in die hartjie van Pretoria geopen te midde van die Covid-19-pandemie. Vanjaar vier dié teater hul tweede verjaarsdag en kyk hulle terug op die uitdagende begin en ’n hele rits hoogtepunte wat oor die afgelope twee jaar plaasgevind het.

Die teater was aanvanklik toegelaat om slegs 50 van hul 370 sitplekke vol te maak as gevolg van streng regulasies tydens Covid-19 maar uiteindelik kon die teater tot 50% kapasiteit gevul word met teatergangers. Die teater was skaars op dreef toe ’n skielike styging in Covid-19 gevalle die deure weer toe gedwing het in Junie en Julie 2021. Ten spyte van hierdie haakplek kon AfriForum Teater in Augustus 2021 hul deure weer oopmaak en sedertdien oophou.

In 2022, slegs ’n jaar ná die teater geopen het spog hulle met uitverkoopte vertonings en  wegholsuksesproduksies soos die Die Gelofte: ’n Musiekblyspel. Dié blyspel het gesorg dat meer as 20 000 kaartjies in ses weke verkoop is. Daarbenewens was AfriForum Teater ook die grootste venue vir die Momentum Aardklop Kunstefees 2022 waar 17 produksies in ses dae op die verhoog te sien was.

Talle belese kunstenaars uit die toneelbedryf maak ook oor die afgelope twee jaar hul buiging op die AfriForum Teater se verhoog, waaronder Sandra Prinsloo, Cintaine Schutte, Frank Opperman, Lizz Meiring, Jana Cillers, Chris van Niekerk, Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm.

AfriForum Teater bly egter ook deurentyd ’n gewilde gemeenskapsteater en word gereeld ondersteun deur skole en gemeenskapsinstellings vir konserte en fondsinsamelings. Die teater in samewerking met die pianis Rocco de Villiers samel in Desember 2022 meer as R70 000 vir die Bramley Kinderhuis in en is vir seker een van die teater se hoogtepunte.

Die teater is dankbaar om reeds vroeg in 2023 ’n volbespreekte kalender te hê. Teatergangers kan uitsien na talle uitstekende produksies in 2023 soos Die Kaplyn-musiekblyspel wat van 26 April tot 21 Mei op die verhoog te sien is.

“Dit is lekker om te sien hoe AfriForum Teater se gewildheid oor die laaste twee jaar gegroei het en hoe mense vanuit alle oorde na die teater stroom om die kunste te ervaar. Hierdie teater is sowaar die tuiskomplek vir Afrikaanse kunste in Pretoria,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater.

Besoek gerus die teater se webblad by www.afriforumteater.co.za en volg ons ook op sosiale media.

Soortgelyke plasings