Misdaad
|

Nelspruit-buurtwag help om gekaapte voertuig en ontvoerde slagoffer op te spoor

AfriForum se Nelspruit-buurtwag in Mbombela het op 19 Junie ’n sleutelrol gespeel in die opsporing van ’n gekaapte voertuig en ’n slagoffer wat in dié voertuig se kattebak geboender is. Die slagoffer is ongedeerd gevind.

Dít volg nadat die Nelspruit-buurtwag omstreeks 19:45 inligting van ’n huisrooftog en ’n motorkaping in Aurorarylaan in Steiltes op ’n noodgroep ontvang het. Lede van dié buurtwag het op die inligting gereageer en na die toneel gehaas. Gedurende die rooftog is waardevolle huisware gebuit. Een van die slagoffers is binne die huis oorval en vasgebind, terwyl die tweede slagoffer by die hek oorval is. Die verdagtes het hom in die kattebak van sy voertuig geboender en met dié voertuig van die toneel gevlug.

Lede van die Nelspruit-buurtwag het in die rigting van Nelsville en Crocodile Valley gery op soek na die gekaapte voertuig met die slagoffer daarin. Daarna het hulle in die rigting van die Sasol-vulstasie gery en die gekaapte voertuig en die slagoffer verlate langs die pad gevind. Die slagoffer kon daarin slaag om homself uit die voertuig se kattebak te bevry voordat die buurtwaglede daar opgedaag het.

Een van die gewapende verdagtes is te voet agter die vulstasie opgemerk, terwyl sy makkers in ’n nabygeleë Nissan NP200-bakkie vir hom gewag het. Die bakkie het toe met al die verdagtes daarin weggejaag. Geen van die gesteelde huisware is teruggevind nie.

“Dit is kommerwekkend om te sien dat misdaad in die Steiltes-woonbuurt die afgelope twee maande weer aan die toeneem is. Ons benodig die gemeenskap se ondersteuning in ons buurtwagstruktuur om sodoende proaktief op hierdie tipe misdade te reageer. Ons bedank graag ons buurtwaglede wat hulle na die toneel gehaas het om die ontvoerde slagoffer op te spoor en te ondersteun,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Nelspruit-buurtwag nooi lede van die publiek uit om deel te word van dié buurtwag om sodoende ons gemeenskap te beskerm. Klik hier om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings