| |

AfriForum versprei handreiniger en gesigmaskers na noordstreek-takke

Handreiniger en maskers is vandag na AfriForum se 53 takke in die noordstreek versprei nadat die organisasie die afgelope twee weke ’n nasionale projek van stapel gestuur het waartydens 15 000 bottels handreiniger aan verskeie polisiestasies, nooddienste en ouetehuise geskenk is.

Meer as 4 000 bottels handreiniger en 3 200 gesigmaskers word tydens dié projek na die verskeie takke en buurtwagte in die drie provinsies versprei sodat hulle hul gemeenskappe kan ondersteun.

“AfriForum se noordstreek-takke bied deurlopend bystand aan hul gemeenskappe om te verseker dat gemeenskappe die nodige hulp kan ontvang om die verspreiding van COVID-19 te help voorkom,” sê Marié Naudé, AfriForum se gemeenskapstrukturehoof vir die noordstreek.

“AfriForum is hier om ’n daadwerklike verskil te maak. Daar is tans regoor die land ’n groot tekort aan hierdie basiese benodigdhede en daarom het AfriForum dié inisiatief begin. AfriForum se noordstreek-buurtwagte het verder verskeie hulpmiddelle om te bied soos ’n lugsteunvleuel en ongeveer 3 500 patrolleerders wat as oë en ore kan optree en tydens noodsituasies bystand kan bied. AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om die petisie op die organisasie se Facebook-blad te teken sodat buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) as ’n noodsaaklike diens gelys kan word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings