|

Beweerde padwoedeaanval spook steeds by slagoffer

* Die foto in die berig kan lesers ontstel.

Conrad Pretorius leef nog met ernstige emosionele letsels ná ’n padwoedevoorval wat op 1 Augustus plaasgevind het. Op dié dag het adv. Roelof du Plessis vir Pretorius agterna gesit ná hulle glo in ’n woordewisseling by ’n verkeerslig betrokke was. Du Plessis het Pretorius se voertuig na bewering van die pad gedwing en hom met ’n skerp voorwerp gesteek. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op. Pretorius het tydens ’n video-opname by AfriForum oor die voorval gepraat.

“Ek weet ek sal nooit die voorval kan vergeet nie, maar ek moet dit verwerk. Emosioneel is ek nog nie lekker nie, maar ek ontvang hulp,” vertel Pretorius.

Op die dag van die voorval het Pretorius ná die woordewisseling van die toneel weggery, maar hy het besef Du Plessis agtervolg hom. Du Plessis het by geleentheid voor Pretorius ingesny en in sy haas om te ontglip, het Pretorius in ’n doodloopstraat beland waar Du Plessis sy voertuig heeltemal versper het. Albei mans het uit hul voertuie geklim en die woordewisseling is voortgesit.

Ek onthou hy het met gebalde vuiste uit die voertuig geklim.

“Ek weet tot vandag toe nie waarmee hy my gesteek het nie en ek het dit glad nie gesien kom nie. Ek vermoed die voorwerp was in sy vuis versteek.”

Pretorius het ernstige wonde aan sy keel en heup opgedoen. Daar was baie bloeding en sy vrou, wat toe eers uit die voertuig geklim het, het hom terug in die voertuig gehelp waarna hulle hospitaal toe gejaag het.

“Volgens die dokter by die hospitaal sou ek dood gewees het as die steekplek naby my tragea (lugpyp) ’n paar millimeter nader was. Die wonde wat ek opgedoen het, het dit ook vir my direk daarna moeilik gemaak om my werk te doen.”

Pretorius was vir byna ’n week gehospitaliseer. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy ’n strafregtelike klag van poging tot moord teen Du Plessis ingedien, maar hy het toe uitgevind dat Du Plessis ’n strafregtelike klag teen hom aanhangig gemaak het.

Die wond aan Conrad Pretorius se keel.

“Ek was baie verbaas toe ek hoor hy het ’n klagte teen my aanhangig gemaak en ek gaan vervolg word. Om die waarheid te sê het ek vertroue in die regstelsel verloor.”

Pretorius het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Die eenheid het ’n vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig aangesien die besluit om Pretorius, die slagoffer, en nie vir Du Plessis te vervolg nie, irrasioneel was. Die eenheid het verder sy kommer uitgespreek dat die besluit daarop dui dat ’n potensiële beskuldigde van vervolging beskerm word weens hul status binne die regsbroederskap. Die NVG het aangedui dat die klagte teen Pretorius sal voortgaan aangesien teenstrydige weergawes van wat gebeur het, ingedien is.

Met die eenheid se hulp het Pretorius ’n skadevergoedingseis teen Du Plessis ingedien.

“Dit is nie ongewoon dat teenklagtes in strafregtelike sake aanhangig gemaak word in ’n poging om die verloop van geregtigheid te ontwrig nie. Ons sien te dikwels dat ’n verdagte in een saak ’n strafregtelike klag teen die klaer indien. Dit is waarom ons die belangrikheid daarvan beklemtoon dat die NVG al die getuienis in hierdie saak in ag moet neem om ’n rasionele en regverdige besluit te neem,” sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Pretorius sê hy is nie bekommerd oor Du Plessis se dreigemente dat hy hom van laster sal aankla oor uitlatings wat hy oor die voorval gemaak het nie. “Ek praat die waarheid en is nie bekommerd oor sy dreigemente nie. Ek wil net sien dat geregtigheid geskied.”

Die hofsaak hervat op 11 Januarie.

Soortgelyke plasings