AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Groot skoonmaakaksie in Centurion loods selfdoenveldtog


AfriForum het die afgelope naweek in samewerking met Amandri Tuindienste die bebosde ruimte op die hoek van Trichardtweg en Cradocklaan in Kloofsig, Centurion skoongemaak.
Andrew Maden, ’n inwoner van die omgewing wie se huis aan die bebosde ruimte grens, het AfriForum in kennis gestel van die spesifieke area wat onooglik was en as gevolg van dié digte bosse ook ’n skuilplek was vir hawelose mense. Die gebied was vol rommel en menslike afval. Handsakke en sleutels is ook daar gevind.
Daar is boonop sowat drie maande gelede ’n waterlek in dié gebied gevind. Die munisipaliteit is daarvan in kennis gestel, en hoewel hulle mense uitgestuur het om die lek te ondersoek, is dit nooit herstel nie.

“Die gebied is reeds maande lank ’n kopseer vir inwoners en ’n veiligheids- en gesondheidsrisiko vir die gebied,” sê Maden, wat AfriForum genader het ná talle oproepe en klagtes aan die munisipaliteit op dowe ore geval het.
Maden sê hy dink dit is fantasties dat AfriForum so vinnig ingetree het en dat hy hoop die gemeenskap sien die werk raak wat AfriForum doen. “Ek dink dit is die toekoms – om self dinge aan te pak. As ons gaan sit en wag vir iemand anders om dit te doen, gaan sekere dinge nooit verbeter nie,” sê hy.

Tydens die skoonmaakaksie is 22 groot sleepwaens se vragte vol vullis weggery.

“Hierdie was ’n uitstekende aksie wat die krag van samewerking in ’n gemeenskap ten toon stel. Saam kan ons positiewe verandering teweegbring,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

AfriForum gaan tydens Oktobermaand verskeie selfdoenaksies dryf as deel van die burgerregte-organisasie se #OnsDorp-veldtog.
Besoek www.onsdorp.co.za en gee aan AfriForum ’n mandaat om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak en raak self ook betrokke.

Soortgelyke plasings