AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Witbank-tak beveilig O.R. Tambo-straat


Die AfriForum-tak in Witbank het oor die afgelope paar weke 30 nuwe chevrontekens, twee nuwe hoëspoedgevaartekens en 87 retroreflekterende opwaartse merkers (katoë) op die draai van O.R. Tambostraat in Witbank aangebring. Dit is ’n gevaarlike draai waar talle ongelukke reeds plaasgevind het. Sommige van die padtekens was weg of nie meer sigbaar nie en daarom het die Witbank-tak ingegryp.
Die projek het AfriForum se Witbank-tak na beraming R25 000 gekos en vorm deel van die burgerregte-organisasie se #OnsDorp-veldtog wat daarop gemik is om probleme in dorpe aan te pak deur dit self reg te maak en sodoende ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak.

“Die plaaslike munisipaliteit bly in versuim om die nodige instandhoudingswerk aan Witbank se infrastruktuur te doen en daarom het AfriForum se Witbank-tak besluit om hierdie projek aan te pak. Die tak beplan ook om spoedhobbels en voetoorgange, waarvan die verf al verbleik het, oor te verf,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Om by die Witbank-tak aan te sluit, kontak vir Bronwen Pretorius by bronwen.pretorius@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings