AfriForum se Oos-Rand-takke gekant teen straat- en gebounaamsverandering


Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit beplan om voorgestelde naamsveranderinge met betrekking tot verskeie strate én geboue aan en rondom die Oos-Rand aan te bring. AfriForum se Oos-Rand-takke is gekant teen hierdie voorgenome besluit aangesien hierdie veranderinge miljoene rande gaan beloop en die belastingbetaler eenvoudig daarvoor sal moet opdok. Dit kom neer op ’n totale wanbesteding van fondse wat op ander noodsaaklike dienste bestee kan word.

“Die Metro is van plan om ongeveer 59 naamsveranderinge aan strate en geboue aan die Oos-Rand aan te bring en die openbaredeelnamevergaderings het reeds op 12, 13 en 14 Maart 2019 in Katlehong, Thembisa en Tsakane plaasgevind. Die datums is op kort kennis aan die publiek deurgegee en belemmer gemeenskapslede se reg om behoorlik aan die openbaredeelnameproses deel te neem,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum het reeds ’n petisie van stapel gestuur waarby ongeveer 200 mense hul naam tot die klag gevoeg het. Die publiek het tot 3 April 2019 om hul kommentaar in te dien deur ’n e‑pos aan Hendrick Boya by hendrick.boya@ekurhuleni.gov.za te stuur.
AfriForum moedig die publiek aan om aktief betrokke te raak en standpunt hierteen in te neem. Voeg jou naam by die klag: http://bit.ly/2OivFf3.

Soortgelyke plasings