|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek skole in die Paarl- en Wellington-omgewing

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 7 en 8 September by drie skole in die Paarl besoek afgelê (Laerskool Courtrai, Laerskool Noord-Eind en Laerskool WA Joubert) en twee skole in Wellington (Laerskool Hugenote en Laerskool Hugo Rust). Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Dit is belangrik om ons kinders te help om proaktief op te tree wanneer dit by boeliegedrag en kuberboeliery kom,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boelies kom in alle skole voor en netso is maats wat lelik is met mekaar ook in alle skole. Boeliebewusmaking moet gereeld en deurlopend plaasvind. In vandag se wêreld waar almal baie bewus en gesteld is op hul regte, is dit noodsaaklik dat kinders (en ouers) die verskil ken tussen boeliegedrag en lelike of onbeskofte optrede. Gepaardgaande daarmee moet ons kinders ook leer hoe om dit te hanteer sonder om ook ’n boelie te word en hoe en waar om hulp te gaan kry voordat die skade (aan beide kante) te groot is. Boeliebewusmaking moet hand aan hand gaan met die implementering van die skool se waardes, want die waardes van die skool is tog wat en hoe ons wil hê ons leerders elke dag moet wees in hul optrede,” sê Annamarie du Toit, die hoof van Laerskool WA Joubert.

“Vandag is boeliegedrag ’n groot probleem in skole en baie kinders, ouers en onderwysers beskou ’n geboelie as net ’n fisiese afknouery. Ongelukkig is daar verskeie tipe boeliegedrag wat net so erg is, indien nie erger nie, veral op sosiale media. AfriForum se Paarl-tak het besluit om hande te vat met AfriForum se teenboelieveldtogspan om hierdie aaklige siklus in ons skole te probeer breek. Ons glo met bewusmaking en praktiese raad sal kinders en ouers besef dat daar hoop is en dat niemand verdien om afgeknou te word nie,” sê Ben Venter van AfriForum se Paarl-tak.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings