|

AfriForum se Rustenburg-tak gaan voort met volhoubare skoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Rustenburg het op 30 Januarie 2020 voortgegaan met hul volhoubare skoonmaakprojek deur die gras op die sypaadjie van Fatima Bhayatstraat te sny. Dít volg nadat die tak dié projek op 7 November 2019 geloods het nadat gemeenskapslede ongelukkig was oor gestrooide rommel en gras wat nie gesny word nie. Sedert die projek van stapel gestuur is, word strate in verskeie gebiede in Rustenburg twee tot drie keer per week skoongemaak.

“Lang gras in openbare spasies bied wegkruipplek vir kwaaddoeners en veroorsaak dat misdadigers nie vasgetrek kan word nie. Hoewel veiligheid vir ons baie belangrik is, is dit nie die enigste doelwit nie, aangesien die projek ook bydra tot die algehele netheid van die strate en openbare ruimtes en sodoende gesondheidsrisiko’s uitskakel,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens Coetzee versuim die munisipaliteit om sy pligte na te kom om die gras kort te hou en daarom het AfriForum ingespring en die werk self begin doen. “Ons kan nie terugsit en toekyk hoe ons dorp verwaarloos word deur die munisipaliteit nie. Daar waar die munisipaliteit nie hul werk doen nie, sal AfriForum toetree om die gemeenskap by te staan.”

AfriForum vra verder dat gemeenskapslede en sakeondernemings ook by dié inisiatief betrokke sal raak om ’n nóg groter verskil te maak. “Die projek is daarop gefokus om volhoubaar te wees en die gemeenskap te help. Ons beplan om twee tot drie dae per week skoon te maak en sal dan uitbrei soos wat die behoefte bepaal word. Dalk het ons oor ses maande vier spanne in die veld,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Raak vandag nog betrokke by dié skoonmaakprojek: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of bel vir Chris Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings