|

Bo-Karoo-tak takel Noord-Kaapse brande met nuwe toerusting

Die Noord-Kaap se sogenaamde brandseisoen is in volle swang en die Bo-Karoo-streek, wat in die afgelope paar jaar verliese van duisende hektaar weiding weens brande aangeteken het, weet watter gevaar dié droë seisoen kan inhou. Juis daarom het AfriForum se Bo-Karoo-tak nou nuwe toerusting, ter waarde van nagenoeg R50 000 aangekoop om die plaaslike gemeenskap in brandbestrydingsoperasies by te staan.

“Daar is altyd baie vrywilligers uit die Orania-gemeenskap wat wil help om die verswelgende brande wat dikwels in die omgewing voorkom, te blus. Die tekort aan toerusting was egter voorheen ’n reuse-uitdaging. Nou is ’n 500 liter-bakkie-sakkie en twee groot windblasers aangekoop en beskikbaar vir die vrywilligers wat die gevare aandurf om die erge brande, wat oor die hele Bo-Karoo-streek heen voorkom, te help bestry,” verduidelik Magdaleen Kleynhans, AfriForum se Bo-Karoo-takvoorsitter.

“AfriForum staan jaarliks talle boere by wat groot verliese ly as gevolg van hierdie veldbrande. Dit is vir ons ’n prioriteit om so ver as moontlik die verliese te probeer minimaliseer en vrywilligers met die nodige toerusting en opleiding te bemagtig,” sê Werner Strauss, provinsiale koördineerder van die Noord-Kaap. 

Die Bo-Karoo-streek se gemeenskappe word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak in die Bo-Karoo: SMS “Bo-Karoo” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings