|

AfriForum sê sogenaamde toegewings aan BELA-wetsontwerp bied geen gerusstelling

AfriForum vind geen gerusstelling in die gewysigde weergawes van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wetsontwerp) wat gister deur die Gekose Komitee oor Onderwys, Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar is nie. Dié burgerregte waghond gaan dus voort om vir regsaksie voor te berei indien die wetsontwerp aanvaar sou word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake, is AfriForum se kernbeswaar steeds dat die provinsiale onderwyshoofde die reg het om oor toelatings- en taalbeleide te besluit. Indien die beheerliggame nie met sodanige besluite tevrede is nie, kan hulle na die LUR appelleer, wat beteken dat die hoogste gesag steeds by ’n politieke aanstelling sal berus.

Soos AfriForum tevore aangedui het, beweer die Departement van Basiese Onderwys gereeld dat beheerliggame kinders kwaadwillig en wederregtelik uitsluit. Waar bewerings teen spesifieke skole gemaak is, soos in die geval van Hoërskool Overvaal, het die howe ná lang en duur regstryde bevind dat die departementele bewerings ongegrond was. “Ons vra die departement gereeld vir voorbeelde van uitsluiting en bied aan om die sogenaamde kwaadwillige optrede van skole te help ondersoek en omkeer, maar die departement bly in gebreke om spesifieke skole te noem. Ons kan wel skole noem wat oorvol is of verengels het weens departementele inmenging en druk op skoolgemeenskappe en -personeel,” sê sy.

“Die kernprobleme, naamlik dat die regering magshonger is en namens ouers oor hulle kinders wil besluit, asook dat daar ’n algehele onvermoë by die departement bestaan om voldoende skole vir die land se kinders te bou, word nie aangespreek nie. Die omstrede dele van die BELA-wetsontwerp wat met beheerliggame se besluitnemingsmagte en ander aspekte soos tuis- en mikroskoolonderrig handel, word nou ingesluit om die monde te snoer van mense wat hierdie probleme probeer uitwys en aanpak,” sê Bailey.

Die volgende stap is dat ’n sitting op 2 Mei 2024 sal plaasvind, waar die provinsies volgens hulle finale mandate oor die wetsontwerp sal stem, waarna dit na verwagting na die NRP vir debatvoering verwys sal word.

AfriForum hou by die voorneme om die BELA-wetsontwerp teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole inhou. Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum in hierdie verband gee by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings