|

Cele moet waai, sê AfriForum

Ramaphosa moet belofte nakom om teen nie-presterende ministers op te tree

AfriForum het ’n brief aan president Cyril Ramaphosa gerig waarin hy gedetailleerde terugvoer versoek oor Bheki Cele, die minister van Polisie, se professionele prestasie, soos ingevolge sy presidensiële prestasie-ooreenkoms van hom verwag word.

Die ooreenkoms wat tussen Cele en Ramaphosa onderteken is, het in Junie 2019 in werking getree en sal in April 2024 tot ’n einde kom. Die ooreenkoms stipuleer duidelike teikens wat van Cele verwag word om te bereik met betrekking tot die vermindering van misdaad en suksesvolle vervolging.

Volgens die prestasie-ooreenkoms word van Cele verwag om onder meer die volgende verpligtinge te verseker:

  • ’n 70% skuldigbevindingskoers vir ernstige bedrog en korrupsie in die private sektor.
  • ’n 70% skuldigbevindingskoers vir ernstige bedrog en korrupsie in die openbare sektor.
  • Dat 90% van die dwelmsindikate wat geïdentifiseer is, blootgelê word en dat die betrokkenes gearresteer word.
  • Dat 90% van die onwettige laboratoriums wat geïdentifiseer is, gesluit word en dat die betrokkenes gearresteer word.
  • Dat 72% van geregistreerde ernstige georganiseerde misdaadprojekondersoeke suksesvol gesluit word.
  • Dat daar op 100% van die onwettige mynbedrywighede wat geïdentifiseer is, gereageer moet word met betrekking tot versoeke wat ontvang word.
  • ’n Vermindering van 6,9% in misdade teen vroue.

“As ’n mens na die misdaadsituasie in Suid-Afrika kyk, is dit amper seker dat minister Cele nie sy teikens bereik het soos in sy prestasie-ooreenkoms uiteengesit nie. Die president het self die burgers verseker dat stappe gedoen sal word teen kabinetsministers wat nie hul teikens bereik nie. Daarom wil ons gedetailleerde terugvoer oor die aangeleentheid hê en wil ook hê dat die president aandui watter stappe teen Cele gedoen gaan word, sou die assessering aandui dat hy slap gelê het, soos hy duidelik het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Misdaad is een van die grootste kwessies wat elke burger van hierdie land raak. Ons kan nie bekostig om ’n persoon in so ’n belangrike rol as minister van Polisie te hê, wat nie presteer nie, uit voeling is met die huidige misdaadprobleem en onbevoeg is. Dis eenvoudig, Cele moet gaan,” sluit Broodryk af.

Teken die petisie dat Ramaphosa teen Cele optree.

Soortgelyke plasings