|

Mooirivier-buurtwagte se sigbaarheid tydens patrollie hou booswigte weg

Die AfriForum-buurtwagte in die Mooirivier het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 19 April in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 01:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 192 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 4 520 km in 101 voertuie afgelê. Daar het ook 19 persone van ander instansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Die veiligheidstrukture wat deelgeneem het, was Bothaville, Sasolburg, Songloed, Hartbeesfontein, Potchefstroom en Stilfontein.

Daar was min ernstige insidente in die streek, wat moontlik toegeskryf kan word aan die groot sigbaarheid van die buurtwagte. In Sasolburg het die buurtwag gehelp om ’n vermeende ontvoering te fnuik en in Potchefstroom het die buurtwag ondersteuning gebied op ’n baie ernstige motorongeluktoneel buite die dorp.

“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die organisasie se nasionale patrollie deel te neem. Ek bedank ook elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hul onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke: Besoek https://afriforum.co.za/wat-doen-ons-2/buurtwagte/.

Soortgelyke plasings