| |

AfriForum se Stellenbosch-tak dink nuut oor veiligheid met nuwe struktuur

Die AfriForum-tak in Stellenbosch het op 9 September ’n nuwe veiligheidstruktuur bekendgestel tydens ’n funksie. Hierdie struktuur kan beskryf word as ’n veiligheidsgordel wat tussen Langebaan aan die Weskus en Hermanus aan die Kaapse Suidkus loop met Stellenbosch in die middel. 

Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek, het tydens hierdie geleentheid in sy toespraak beklemtoon dat vennootskappe met verskeie buurt- en plaaswagte, gerugsteun deur ander veiligheidsrolspelers in die gebied, nodig is vir hierdie veiligheidsgordel om effektief te funksioneer.

’n Lugsteunvleuel vir Stellenbosch is ook aangekondig en die eerste vier hommeltuigvlieëniers, wat reeds opleiding deur Forum Sekuriteit ontvang het, is op hierdie funksie bekendgestel. Daar is ook ’n wynveiling gehou om fondse vir die aankoop van die tak se eie hommeltuig in te samel.

“Misdadigers word slimmer en dit is nodig om moderne tegnologie, soos hommeltuie, in te span om ons gemeenskappe meer doeltreffend te beveilig. Ons sien veral uit daarna om saam met die rolspelers wat betrokke is by die nuwe veiligheidstruktuur – oftewel die veiligheidsgordel – te werk om ons onderskeie areas veilig te hou,” sê Jac Pietersen, die Stellenbosch-tak se voorsitter vir gemeenskapsveiligheid.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak of -buurtwag betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos aan johan.crous@afriforum.co.za of SMS “Stellenbosch ” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings