|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het die afgelope week op verskeie maniere bydraes gemaak om ’n verskil in ’n klomp dorpe te maak. Hommeltuie is onder meer in Jagersfontein ingespan om oorlewendes op te spoor en boomplantmaand is met die aanplant van tientalle bome gevier.

Die tragedie in Jagersfontein, toe die slikdam se wal op 11 September gebars het, het lewens geëis toe slik en vloedwater groot dele van die dorp en omliggende plase verwoes het. AfriForum het die nood raakgesien en op verskeie maniere bystand gebied.

AfriForum se veiligheidstrukture het twee hommeltuie tydens die ramp gebruik om te help om reddingspogings te koördineer. AfriForum se Gemeenskapsveiligheidafdeling se uitgebreide radionetwerk is ook ingespan om kommunikasie tussen die rolspelers te bewerkstellig.

Benewens die verlies van menselewens is grootskaalse veeverliese ook aangemeld. Een boer het 90% van sy vee verloor. AfriForum het in samewerking met Saai ’n noodfonds gestig om die gemeenskap en boere te ondersteun. ’n Beroep word op die publiek gedoen om ’n bydrae te maak.

AfriForum het vandeesweek hofstukke teen die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien nadat die departement steeds weier om maatskaplike toelae, betaalbaar aan Sunfield Home vir gestremdes, te betaal. Die Sunfield Home sukkel al die afgelope 14 jaar om subsidies by dié departement verhoog te kry. Die departement het ook gedreig om inwoners te verskuif.

In AfriForum se prokureursbrief word daar gevra dat die verskuiwing van inwoners heroorweeg word en die subsidiebedrag tot ’n aanvaarbare vlak verhoog word.

“Wanneer die regering die weerloses in die samelewing bedreig en diegene wat probeer help onregverdig behandel, sal AfriForum vierkantig in die regering se pad staan,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Verskeie AfriForum-takke het aan boomplantmaand deelgeneem. In Mosselbaai het AfriForum saam met die Mosselbaai-munisipaliteit 21 koorsbome geplant, die AfriForum-tak in Marble Hall het twee bome by Laerskool Marble Hall geplant en die Midvaal-tak vyf vrugtebome by die Lerato-kinderhuis. Die Midvaal-tak het ’n verdere 50 bome vir lede beskikbaar gestel. Stuur ’n WhatsApp-boodskap aan 072 771 9081 om ’n gratis boom te bekom.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag, wat deel vorm van die organisasie se Port Elizabeth-tak, het in samewerking met die SAPD Kabega Park, Fidelity ADT, Atlas Security, CityWide Security, Extreme Security, Bestmed en Relay-nooddienste ’n bewusmakingsdag oor gemeenskapsveiligheid gehou. Die belangrikheid van ’n vennootskap met die SAPD is beklemtoon en die publiek het ’n geleentheid gekry om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings