|

AfriForum se Straatligprojek bring lig na Bethal se strate, installeer 20 nuwe straatligte

Wanneer dit kom by stukkende straatligte, is dit maar ’n donker prentjie op talle dorpe en stede oor die hele land heen – en Bethal is geen uitsondering nie. AfriForum se Bethal-tak het daarom, as deel van AfriForum se Nasionale Straatligprojek, op Vrydag 17 Mei twintig nuwe straatligte in dié dorp geïnstalleer.

Die Straatligprojek is daarop gemik om nie net die swak instandhouding van straatligte en die deurlopende uitdagings wat beurtkrag vir die beligting van strate bied, te takel nie, maar om dit boonop op ’n volhoubare en omgewingsvriendelike manier te doen met die installering van straatligte wat met sonkrag werk.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, dompel die gereelde implementering van beurtkrag en ladingsvermindering dikwels hele buurte in die donker. “Dit bied aan misdadigers gunstige omstandighede vir hul konkelwerk wat uiteraard ernstige veiligheidsimplikasies vir inwoners inhou,” verduidelik Bekker.

“Donker strate is onveilige strate,” benadruk Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak. “Ons is moeg daarvoor om te vra vir basiese dienste, nou neem ons die lewering van hierdie dienste stelselmatig self oor. Ons sal self ons probleme aanpak én oplos.”

Hier is jou kans: Wees die lig in die Straatligprojek!

Die twintig nuwe straatligte wat verlede week op Bethal geïnstalleer is, vorm deel van ’n proefprojek en inwoners van hierdie dorp word aangemoedig om nou verder eienaarskap daarvan te neem en ook aktief betrokke te raak. Inwoners kan die projek ondersteun deur self ligte aan te skaf en te laat installeer. AfriForum se Bethal-tak sal op sy beurt die oprigtingskoste van straatligte in Bethal dra. Kontak Eugene Hartman by 084 513 6587 vir meer inligting.

Indien jy betrokke wil raak, let op die volgende:

  • Sonkragligte is beskikbaar by GEH Solutions in Moses Kotanestraat, Bethal.
  • Omdat die nuwe straatlig op ’n spesifieke monteringstuk moet pas op die bestaande lamppale, is slegs spesifieke straatligte geskik vir die projek. Maak seker dat die korrekte ligte aangeskaf word.
  • Ligte gaan slegs in die plek van bestaande straatligte, en dus funksionerende lamppale, geïnstalleer word.
  • Die bestaande lamppale moet vir die installasieproses toeganklik wees met die nodige masjinerie. 
  • Ligte wat vir die projek geskenk word, sal groepsgewys (tien per dag) opgerig word om die arbeids- en toerustingskostes per dag te optimaliseer.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Bethal-tak. Besoek www.wordlid.co.za en word deel van die oplossing.

(Dekfoto: Ter illustrasie)

Een van die twintig nuwe straatligte wat in Bethal opgerig is. Dié nuwe sonkragligte vorm deel van AfriForum se Nasionale Straatligprojek.

Soortgelyke plasings