|

Noordwes se vullisterreine in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 3 uit 23 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Stellaland streek, is die meeste vullisterreine in Noordwes in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur deur munisipaliteite.  Daar is geen of min kontrole by vullisterreine nie wat veroorsaak dat storting nie soos voorgeskrewe plaasvind nie. Toegang tot hierdie vullisterreine word ook nie bestuur nie.”

Nel sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. “Daar word nie genoeg hulpbronne aangewend om vullisterreine op standaard te hou nie.”

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

Soortgelyke plasings