Heindrich Wyngaard en AfriForum stig nuwe Kaapse burgerlike organisasie

Die prominente Afrikaanse mediapersoonlikheid en sosio-politieke meningsvormer Heindrich Wyngaard en AfriForum het aangekondig dat hulle saam met ander rolspelers ’n nuwe Kaapse burgerlike organisasie genaamd die Kaapse Forum gestig het. Wyngaard sal vanaf 4 April voltyds die pos as uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum beklee.

Die Kaapse Forum sal onder meer daarop fokus om gemeenskapselfstandigheid in Kaapse gemeenskappe te bevorder en groeiende federalisme in die Wes-Kaap en Kaapse gemeenskappe te help vestig.

Die Kaapse Forum wil met die vestiging van sterk, selfstandige gemeenskappe fokus op ’n selfhelp-ingesteldheid om onder meer armoede te help bekamp, gemeenskapsekonomieë uit te bou, veiligheid te verseker en goed funksionerende gemeenskappe daar te stel. Selfstandige gemeenskappe is volgens die Kaapse Forum die boustene om ’n gesonde demokratiese federale bestel van grondvlak af op te bou. Dié selfhelp-ingesteldheid word weerspieël in die Kaapse Forum se slagspreuk, naamlik “Plaas die Kaap se toekoms in Kaapse hande”.

Met die bevordering van groeiende federalisme wil die Kaapse Forum toesien dat besluitnemingsmagte oor onder meer polisiëring, openbare vervoer, elektrisiteitsvoorsiening, water, visserye en die strafregstelsel van die nasionale regering afgewentel word na die Wes-Kaapse provinsie, munisipaliteite en plaaslike gemeenskappe. Belastingfederalisme, waar belastingbetalers se geld grootliks plaaslik aangewend word, sal ’n kerndeel van die Kaapse Forum se plan van aksie vorm.

Volgens Wyngaard sien hy uit na sy rol om ’n positiewe verskil in gemeenskappe in die Wes-Kaap te help maak. “Ons wil die Kaapse Forum vestig as ’n organisasie met massasteun in die Wes-Kaapse gemeenskappe, maar met ruimte vir verskille wat respek en verdraagsaamheid bevorder. Die Kaapse Forum wil gemeenskappe help om saam te werk deur te fokus op gedeelde belange en deur hulle te versterk om self verantwoordelikheid te neem vir hulle gemeenskappe en provinsie,” sê Wyngaard.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê sy organisasie se betrokkenheid by die Kaapse Forum vloei voort uit AfriForum se uitgesproke doelwit om gesonde vennootskappe op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen Afrikaners en die talle ander kultuurgemeenskappe in die land te help vestig. “AfriForum het reeds  vennootskappe met onder meer Zoeloe-, Barolong-, die AmaBhele en ander kultuurgemeenskappe gevestig. Die Kaapse Forum bied nou ook aan AfriForum die geleentheid om ’n hand van vriendskap na die bruin en ander Kaapse gemeenskappe uit te reik in ’n poging om daartoe by te dra dat die onderskeie gemeenskappe op ’n gelyke basis en met respek vir mekaar se menswaardigheid kan saamwerk om ’n  beter hede en toekoms vir almal te help skep,” sê Kriel.

Die Kaapse Forum vervang volgens Kriel nie AfriForum in die Wes-Kaap nie maar dié twee organisasies, wat elk hulle eie fokusterreine het, se aktiwiteite sal mekaar aanvul. “Die Wes-Kaap is naas Gauteng die provinsie waar AfriForum die meeste aktiewe lede het. AfriForum se strukture in die Wes-Kaap asook AfriForum se nasionale takkongres het die stigting van die Kaapse Forum eenparig ondersteun.”

Die Kaapse Forum sal as onafhanklike maatskappy sonder winsoogmerk buite die partypolitiek funksioneer. Die name van die Kaapse Forum se direksielede en adviseurs, wat verskeie prominente persone insluit, asook die Kaapse Forum se eerste groot veldtogte sal binnekort aangekondig word.

Wyngaard, as uitvoerende voorsitter, sal saam met sy direksie die Kaapse Forum se strategiese rigting bepaal terwyl AfriForum se administratiewe, bestuurs- en kommunikasiestelsels asook AfriForum se regspan ingespan sal word om die Kaapse Forum te rugsteun totdat dié nuwe organisasie op sy eie bene kan staan.

Soortgelyke plasings