|

AfriForum se teenboelieveldtogspan bemagtig meer as 600 leerders by Laerskool Muldersdrif

AfriForum se teenboelieveldtogspan, saam met hul gewilde gelukbringer Matteus, het onlangs besoek afgelê by Laerskool Muldersdrif. Hier het die span meer as 600 leerders geleer oor die gevare van boeliegedrag en hulle toegerus met die nodige kennis om te help om boeliedrag te bekamp.

Die teenboelieveldtogspan se boodskap is gebou op die Bybelse konsep van die volle wapenrusting van God. Voorts is die leerders ook daarvan bewus gemaak dat daar ’n verskil is tussen konflik en boeliegedrag – die een moet dus nie met die ander verwar word nie. “Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies en boeliegedrag te identifiseer en dit stop te sit,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

“Baie dankie aan AfriForum vir hul besoek aan Laerskool Muldersdrif. Ons waardeer die uitstekende werk wat AfriForum doen by ons en ander skole in die gemeenskap. Hier by Laerskool Muldersdrif is respek belangrik, teenoor ander, die omgewing en die natuur. Respek is nie net vir onsself nie, maar ook dat ons vir ons nageslagte moet sorg,” meen Herman Byleveld, hoof van die Laerskool Muldersdrif.

“Boeliebewusmaking is baie belangrik in skole omdat ouers en leerders nie altyd bewus is wat boelie werklik is nie. Ouers en leerders sal baie keer geïsoleerde gevalle aanmeld as boelie. Dit maak leerders ook bewus van die gesegde ‘Elke aksie het ’n reaksie’. Leerders weet ook dikwels nie hoe om op te tree teenoor boelies of hoe om ander te help wat geboelie word nie,” sê Chantelle Lombaard, onderwyseres by die Laerskool Muldersdrif.

Volgens Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum, bemagtig hierdie projek reeds vir sewe jaar lank skole landswyd. “Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur ons boompies te buig terwyl hulle nog jonk is, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”

Boeliegedrag het ’n negatiewe invloed op jong kinders se emosionele en akademiese welstand. Dít is ook waarom ouers moet help om hul kinders te bemagtig met die nodige vaardighede om boeliegedrag te hanteer. Saam moet ouers en kinders proaktief optree om te verhoed dat boeliegedrag uitkring.

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings